‘Onwettige vissers’ weer in hof
Die borgtogaansoeke van die buitelanders wat na bewering by onwettigE visvangbedrywighede in Namibiese waters aan boord van die vissersvaartuig FU YUAN YU betrokke was, is tot volgende week uitgestel.
Tydens hul tweede verskyning einde Mei in die Walvisbaai-landdroshof is die saak van die vier beskuldigdes, die Chinese burgers Caifang Qui, Shenger Liu, Weng Haiping, en die Angolees Victor da Silva, na die streekhof op dié hawedorp oorgeplaas.
Die vier beskuldigdes het op 19 Junie in die Walvisbaai-streekhof voor landdros Vicky Nicolaidis vir ’n geskeduleerde borgtogverhoor verskyn.
Die staat het die hof meegedeel die polisiedossier is nog by die adjunk-aanklaer-generaal in Swakopmund en dat verdere dokumente ingedien sal word sodra die dossier beskikbaar is.
Die mans staar aanklagte ingevolge die wet op immigrasiebeheer in die gesig. Volgens die klagstaat word die vier daarvan beskuldig dat hulle bepalings rakende die teenwoordigheid van buitelandse burgers binne Namibië se territoriale waters en eksklusiewe ekonomiese sone oortree het.
Daarbenewens staan Caifang, die eerste beskuldigde, tereg op ’n afsonderlike aanklag ingevolge die regulasies op mariene hulpbronne. Die staat beweer dat hy, as die eienaar, huurder, verhuurder en/of kaptein van die FU YUAN YU, toegelaat het dat die vaartuig in Namibiese waters gevaar het sonder dat die visvangtoerusting uitmekaar gehaal, gestoor of andersins beveilig is, soos deur die wet vereis word. Die vaartuig is geregistreer om onder die Chinese vlag te vaar en word as ’n vissersvaartuig geklassifiseer.
Die saak is tot 30 Junie vir die borgtogaansoeke uitgestel. Al vier beskuldigdes bly in polisieaanhouding tot hul volgende hofverskyning.
Die mans is in hegtenis geneem nadat die Namibiese vloot se vlagskip-vaartuig, die NS Elephant die vissersboot op 17 Mei tydens ’n roetinepatrollie in onderskep het terwyl hulle na bewering op daardie tydstip besig was met die ongemagtigde visoeste.
Dit is glo bevestig deur ’n vol visnet met vangs en die afwesigheid van ’n geldige permit.
Volgens die vloot sluit oortredings in dat die kaptein nie ’n geldige lisensie kon toon nie en daar is vasgestel dat die vaartuig se outomatiese identifikasiestelsel (AIS) doelbewus vóór die onderskepping gedeaktiveer is.
Die bemanning het uit 22 mans bestaan, waaronder vier Chinese en 18 Angolese burgers.
BOETE VIR RUS
In ’n afsonderlike, maar soortgelyke saak, is die Russiese burger Alexander Askenov (48) Dinsdag in die Walvisbaai-streekhof skuldig bevind aan die oortreding van die Wet op Mariene Hulpbronne van 2000 en is ’n boete van N$450 000 opgelê.
Volgens hofdokumente is Askenov daarvan aangekla dat hy die vaartuig MVF Steinsund, wat onder die Namibiese vlag gevaar het, gebruik of toegelaat het om mariene hulpbronne te oes sonder die vereiste magtiging of geldige visvanglisensie.
Die staat het beweer dat Askenov, as die eienaar, huurder, verhuurder en/of kaptein van die vissersvaartuig, toegelaat het dat 260 ton maasbanker onwettig in Namibiese waters naby Walvisbaai tussen 1 en 6 Mei vanjaar geoes word. Die waarde van die maasbanker is op ongeveer N$2,47 miljoen beraam.
Askenov het die eerste keer op 12 Junie in die hof verskyn, toe die saak uitgestel is om hom toe te laat om vir regshulp aansoek te doen en weens logistieke probleme met betrekking tot ’n tolk.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie