Omusati kan Ramaphosa sy presidentskap kos

Sonja Smith

Namibiese burgers uit die Omusatistreek wat daarvan verdink word dat hulle in US$580 000 in 2020 van die Suid-Afrikaanse president Cyril Ramaphosa se Phala Phala-plaas gesteel het, kan hom sy presidentskap kos ná ’n uitspraak in die konstitusionele hof wat Vrydag gelewer is.

Die Phala Phala-skandaal draai om die diefstal van buitelandse valuta op die plaas, na bewering deur verskeie Namibiërs van wie sommige nou Suid-Afrikaanse burgerskap het.

Vrae het ook gefokus op die oorsprong van die geld, wat Ramaphosa gesê het uit ’n buffelverkoopstransaksie op die Limpopo-plaas gekom het.

Die voormalige Suid-Afrikaanse spioenbaas Arthur Fraser het egter beweer daar was ’n toesmeerdery wat miljoene Amerikaanse dollars op Phala Phala behels het waar die geld glo in ’n rusbank versteek was.

’n Onafhanklike Artikel 89-paneel, gelei deur die voormalige Suid-Afrikaanse hoofregter Sandile Ngcobo, het bevind dat Ramaphosa moontlik sy ampseed geskend het en moontlik die wet op die voorkoming en bekamping van korrupsie oortree het.

Die Suid-Afrikaanse parlement het in Desember 2022 probeer om Ramaphosa in ’n staat van beskuldiging te plaas ná ’n aanbeveling van die onafhanklike Artikel 89-paneel.

Die beskuldigingsmosie het misluk en die parlement het met 214 teen 149 teen die aanvaarding van die paneel se verslag gestem.

Die Economic Freedom Fighters (EFF) het toe die konstitusionele hof genader en onder meer die Nasionale Vergadering en die Speaker uitgedaag.

Vrydag het die konstitusionele hof gelas dat die Artikel 89-paneel se verslag direk na die parlement se beskuldigingskomitee verwys moet word sodat die proses kan begin.

Die hof het bevind dat die Nasionale Vergadering versuim het om sy grondwetlike toesighoudende pligte behoorlik na te kom.

Hoofregter Mandisa Maya, wat die uitspraak voorgelees het, het gesê die hof het bevind dat Reël 129(i) van die Nasionale Vergadering se reëls “’n beskuldigingsproses effektief geblokkeer het sonder betekenisvolle betrokkenheid by ’n mosie tydens ’n parlementêre stemming” – en sodoende die grondwetlike waardes van aanspreeklikheid en deursigtigheid ondermyn het. 

“Die stemming het dus ’n wettige grondslag ontbreek,” het Maya gesê.

Al verwyder die uitspraak Ramaphosa nie outomaties uit sy amp nie, maak dit die grondwetlike pad na beskuldiging weer oop en plaas dit die saak terug by die parlement.

Die EFF se hoofsweep, Nothando Nolutshungu, het ná die uitspraak aan Speaker Thoko Didiza geskryf en geëis dat sy die proses begin om die beskuldigingskomitee saam te stel om uitvoering aan die hof se uitspraak te gee.


OLUKEKETE

Van die Phala Phala-geld het glo die pad na die Olukekete-nedersetting, sowat 15 km buite Outapi in die Omusatistreek gevind, waar een van die beweerde meesterbreine, Imanuwela David, se ouma woon.

David is in Junie 2020 tydens Covid-19 in Namibië in hegtenis geneem, omdat hy immigrasiewette oortree het toe hy die Oranjerivier nie by ’n aangewese grenspos oorgesteek het nie. Hy is beboet en na Suid-Afrika gedeporteer.

David en twee ander, Froliana Joseph en haar jonger broer, Ndilinasho David Joseph, verskyn voor die Modimolle-streekhof in Limpopo, waar hulle aanklagte in die gesig staar wat verband hou met die inbraak by Phala Phala.

Die ander is Urbanus Shaumbwako, wat in Maart 2024 tot 20 jaar tronkstraf gevonnis is nadat Suid-Afrikaanse owerhede hom in Oktober 2020 in Kaapstad in hegtenis geneem het toe hy met 12 onwettige vuurwapens met die reeksnommers verwyder, in sy besit gevind is.

Erkki Shikongo is by die ondersoek ingesleep oor bewerings dat die gesteelde geld moontlik gebruik is om bates in sowel Namibië as Suid-Afrika te koop. Owerhede het eiendomstransaksies in Kaapstad ondersoek, asook ander aankope, insluitend ’n gastehuis en ’n Toyota Land Cruiser in Namibië.

Hy het enige betrokkenheid by die rooftog ontken en volgehou dat sy finansies uit goudhandel kom.

Nog ’n Namibiër, Petrus Muhekeni, is tydens die ondersoek as ’n persoon van belang geïdentifiseer.

Berigte destyds het aangedui dat hy ten tyde van die rooftog as ’n bestuurder in Suid-Afrika in diens was. Muhekeni het later ontken dat hy enigiets van die voorval weet en gesê Namibiese wetstoepassingsbeamptes het hom nooit daaroor genader nie.

Petrus Afrikaner is ook in ’n beëdigde verklaring genoem wat in 2022 deur Fraser, die voormalige Suid-Afrikaanse intelligensiehoof, ingedien is, wat Afrikaner onder die individue gelys het wat glo met die rooftog verbind is.


AANKLAER-GENERAAL

Aanklaer-generaal Martha Imalwa het bevestig dat Suid-Afrika verlede jaar ’n uitleweringsversoek ingedien het, maar het gesê Namibië kan dit eers hanteer sodra haar kantoor oor die Namibiese saak besluit het, wat nog uitstaande is hangende ’n antwoord van Suid-Afrika.

Sy het gesê toe David in hegtenis geneem is, is hy nie van diefstal aangekla in verband met die Phala Phala-voorval nie, aangesien Suid-Afrika nie die versoekte inligting aan Namibië verskaf het nie.

“Gevolglik kon ons nie aansoek doen vir ’n eiendomsbewaringsbevel van ons hof nie, aangesien ons geen bewyse gehad het wat die verdagtes in Namibië met die Phala Phala-voorval verbind nie,” het sy gesê.

Volgens haar het die Finansiële Intelligensiesentrum ook ’n tydelike beperking geplaas op die rekening waarin die geld gedeponeer is.

Die bevel het verval nadat die polisie nie die inligting ingedien het wat haar kantoor van Suid-Afrika versoek het nie.

“Die polisie behoort te weet wie die geld onttrek het,” het Imalwa gesê.

Sy het gesê, volgens die polisie, is die Namibiese verdagtes wat eiendomme gekoop het, nooit in hegtenis geneem nie, want daar was geen inligting van Suid-Afrika wat hulle met Phala Phala verbind het nie.

Ramaphosa het deur sy woordvoerder Vincent Magwenya, gesê hy “respekteer die konstitusionele hof se uitspraak en bevestig weer sy verbintenis tot die Grondwet, die onafhanklikheid van die regbank en die oppergesag van die reg.” 

Magwenya het bygevoeg “geen persoon is bo die wet verhewe nie en dat bewerings aan behoorlike prosesse onderwerp moet word sonder vrees, guns of vooroordeel.”

[email protected]



Kommentaar

Republikein 2026-08-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer