Die kantoor van die Windhoekse munisipaliteit. Foto verskaf
Die kantoor van die Windhoekse munisipaliteit. Foto verskaf

NTA sleep CoW hof toe oor skuld van N$51 m.

Rita Kakelo
’n Regsgeding oor onbetaalde heffings vir beroepsonderrig en opleiding (VET) tussen Stad Windhoek (CoW) en die Namibië Opleidingsowerheid (NTA) het aan die lig gebring dat die munisipaliteit die owerheid meer as N$51 miljoen skuld.

CoW het egter dié bedrag – wat meer as tien jaar terug dateer – betwis met die argument dat die opgehoopte boetes en rente buitensporig is en ’n onnodige finansiële las op die munisipaliteit sal plaas.

CoW het ook die akkuraatheid en billikheid van die aanklagte wat deur die NTA aanhangig gemaak is, bevraagteken.

Die regstappe kom te midde van openbare kritiek op die munisipaliteit se streng afdwinging van munisipale rekeningbetalings, insluitend die ontkoppeling van water- en elektrisiteitsdienste vir inwoners wat nie hul rekeninge kan vereffen nie.



NIENAKOMING

Volgens dokumente wat die NTA in Oktober 2023 in die hoërhof in Windhoek ingedien het, is CoW sedert 28 Maart 2014, toe hy formeel as ’n heffingbetalende werkgewer geregistreer is, wetlik verplig om tot die VET-heffing by te dra.

Die munisipaliteit se beweerde voortgesette nienakoming het daartoe gelei dat rente en boetes beduidend opgehoop het tot ’n skuld van N$51 474 305,61 vanaf Julie 2022, volgens hofstukke.

Die saak het Woensdag voor regter Beatrix de Jager in die hoërhof vir tussentydse verrigtinge verskyn.

Met die uitsondering van vrygestelde organisasies, moet alle werkgewers wat binne die grense van Namibië werksaam is en wat ’n geskatte jaarlikse betaalstaat van N$1 000 000 of meer vir elke finansiële jaar sedert 1 April 2014 toon, by die NTA registreer en ’n VET-heffing betaal.

Dié heffing, wat vasgestel is op 1% van ’n organisasie se jaarlikse betaalstaat, is daarop gemik om die ontwikkeling van beroepsvaardighede landswyd te ondersteun.



OU SKULD

In die munisipaliteit se spesiale pleidooi, wat in Mei 2024 deur sy prokureur, Gaenor Michaels, ingedien is, het hy opgemerk dat die beweerde skuld terugdateer na 1 April 2014, maar die dagvaarding is egter eers nege jaar later amptelik beteken.

CoW beroep hom dus op die Verjaringswet, wat die tydperk beperk waartydens skuld wetlik geëis kan word, en voer aan dat enige bedrae wat voor Oktober 2020 verskuldig was, verval het en nie meer verhaalbaar behoort te wees nie.

Die munisipaliteit voer aan dat die boetes en rente buitensporig is en ’n onnodige finansiële las op die munisipaliteit sal plaas, wat moontlik die lewering van noodsaaklike openbare dienste sal beïnvloed.

Boonop hou CoW vol dat hy glad nie vir die heffing aanspreeklik behoort te wees nie, en voer aan dat, as ’n staatsentiteit, die wet dalk nie op dieselfde wyse op die munisipaliteit van toepassing is nie.

Gevolglik het CoW regstappe begin om die geldigheid van die wet self te betwis, en die hof versoek om die eis van die hand te wys en om enige betalings wat hy glo verkeerdelik gemaak het, te herwin.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-08-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer