• Tuisblad
  • Howe
  • Noorde-dokter vas ná aanval op staatsaanklaer
Dr. Fillemon (Fly) Nakanduungile Foto verskaf
Dr. Fillemon (Fly) Nakanduungile Foto verskaf

Noorde-dokter vas ná aanval op staatsaanklaer

Oudpolisieman glo meesterbrein
Die algemene praktisyn van Ondangwa bly in aanhouding en sy saak is tot 16 Maart 2026 uitgestel.
Kenya Kambowe
Dr. Fillemon (Fly) Nakanduungile, 'n mediese dokter in die Noorde, is die jongste verdagte wat in hegtenis geneem is in verband met die aanval op 'n beheeraanklaer van die Ondangwa-landdroshof, Justine Shiweda.

Nakanduungile het Vrydag in die Ondangwa-landdroshof verskyn op aanklagte van poging tot moord en sameswering om moord te pleeg. Die besonderhede van sy beweerde rol in die wrede aanval bly onduidelik.

Nakanduungile, 'n algemene praktisyn in Ondangwa bly in aanhouding en sy saak is tot 16 Maart 2026 uitgestel.

MAFIA-STYL LOKVAL

Op 17 Oktober omstreeks 07:00 is Shiweda wreed buite haar huis aangeval in wat die polisie beskryf het as 'n mafia-styl lokval.

Verskeie mans het na bewering op haar losgebrand, haar voertuig se vensters stukkend geslaan en 'n mengsel van soutsuur en swaelsuur oor haar liggaam gegooi.

Shiweda het oorleef en is steeds in die intensiewesorgeenheid, waar sy verskeie operasies ondergaan het, volgens mediese personeel wat haar by die hospitaal behandel.

Nakanduungile sluit aan by verskeie ander verdagtes, insluitend die voormalige polisiebeampte Abner Mewiliko Mateus.

Dié oud polisieman met ’n misdaadgeskiedenis wat tot 2013 terugdateer, word daarvan beskuldig dat hy die meesterbrein is van die poging tot moord op Shiweda, ten spyte daarvan dat hy destyds in polisie-aanhouding was.

Mateus, saam met die ander verdagtes, insluitend ’n polisiesersant, is in hegtenis geneem in verband met dié aanval.

Die polisie het aanvanklik besonderhede van die voorval tot verlede week weerhou, toe die polisiebevelvoerder van die Oshanastreek, kommissaris Naftal Sakaria, ’n omvattende opdatering tydens ’n mediakonferensie gegee het.

Sakaria het gesê polisieondersoeke het vasgestel dat die motief direk verbind word aan Shiweda se amptelike pligte in ’n hoëprofiel-strafregtelike vervolging.

SINDIKAAT

Die bevelvoerder het verder onthul dat ondersoeke Mateus – ook bekend as “Kapilili” – onomwonde geïdentifiseer het as die vermeende meesterbrein agter die sindikaat.

Mateus was glo in aanhouding toe hy na bewering die aanval beplan het.

Sakaria het bevestig die verdagtes, insluitend Mateus, wat aangekla is, is Lukas Nekwiyu, ook bekend as “Mane”; polisiesersant Shipanga Matheus; Uusiku Petrus Panduieni Nadhipite; Selma Kandiuapa; Monday Bahn; Johannes Nghilifavali, bekend onder sy bynaam “Giver” en Petrus Kuume Shikwaya.

Die beskuldigdes staan tereg op ’n reeks ernstige aanklagte, insluitend poging tot moord, sameswering om ’n misdaad te pleeg, korrupsie, die besit van vervalste banknote en dwelmverwante oortredings, wat die vermeende sindikaat se beweerde uitgebreide kriminele aktiwiteite weerspieël.

Sakaria het die beweerde optrede van sersant Shipanga Matheus veroordeel, wat daarvan beskuldig word dat hy sy posisie misbruik het deur Mateus onwettig uit polisie-aanhouding in Windhoek te skuif onder die voorwendsel om hom na ’n gesondheidsfasiliteit te neem.

ESKAPADES

IN GASTEHUIS

“Hy het sy posisie as polisiebeampte misbruik deur ’n gevangene van polisie-aanhoudingselle onwettig na ’n gastehuis te skuif,” het Sakaria gesê.

“By hierdie ongemagtigde plek het die gevangene na bewering alkohol gedrink, kennisse ontmoet en tyd saam met ’n meisie deurgebring,” het hy bygevoeg.

Die onwettige reis het tussen 22 en 27 Oktober plaasgevind, net dae ná die aanval op Shiweda, het die polisie gesê.

Matheus is sedertdien aangekla en in hegtenis geneem en bly in aanhouding.

NóG ARRESTASIES KOM

Sakaria het gesê ondersoekbeamptes het die verdagtes suksesvol opgespoor vanaf die punt waar die chemiese mengsel gekoop is.

Kringtelevisie-beeldmateriaal het na bewering die verdagtes by ’n verskaffer se perseel in Windhoek geplaas, waarna moderne ondersoektegnologieë gebruik is om hul identiteite te bevestig.

Die bevelvoerder het gesê die ondersoek het gelei tot beduidende beslagleggings, insluitend drie motorvoertuie wat gebruik is in die pleeg van misdrywe of verkry is deur onwettige opbrengste, die opspoor van klere en selfone wat deur die verdagtes gebruik is.

Volgens hom is twee eiendomme geïdentifiseer wat nou onder finansiële ondersoek is. Dit is vermoedelike opbrengste van misdaad, wat waarskynlik sal lei tot bates wat verbeurd aan die staat verklaar sal word.

Sakaria het misdadigers gewaarsku dat die ondersoek voortduur en bevestig dat meer arrestasies kan volg, aangesien nuwe leidrade en verbintenisse binne die kriminele netwerk na vore gekom het.

OU KALANT

Intussen het Network Media Hub (NMH) twee weke gelede berig dat Nekwiyu en sy medepligtiges in 2015 na bewering hulself as polisiebeamptes voorgedoen het om ’n Chinese sake-eienaar in Oshikango te beroof.

In 2007, op die ouderdom van 21, was Nekwiyu deel van die sewe verdagtes wat in hegtenis geneem is in verband met ’n gewapende rooftog by ’n lodge naby Windhoek.

Die groep het na bewering die sleutels van ’n kluis van die lodge-eienaar Heinz Dresselhaus geëis, waarna hulle kontant en ander items ter waarde van ongeveer N$1,4 miljoen gesteel en in sy Toyota Land Cruiser gevlug het.

Hulle is ’n maand later op borgtog van N$1 000 elk vrygelaat.

In Julie 2013 het die polisie vir Mateus, destyds ’n konstabel, in die Oshanastreek in hegtenis geneem vir ’n gewapende rooftog by Ongwediva.

Hy is in hegtenis geneem terwyl hy op borgtog van N$5 000 vrygelaat was ná ’n vorige arrestasie in Januarie dieselfde jaar vir sy beweerde betrokkenheid by ’n reeks rooftogte, huisbrake en ontvoerings in die noordelike streke.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-06-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer