• Tuisblad
  • Howe
  • Nghipunya misluk in poging om wet te laat verander

Nghipunya misluk in poging om wet te laat verander

Aansoek van die hand gewys
Die Fishrot-beskuldigde het nie daarin geslaag om twee terme in die Strafproseswet as ongrondwetlik te laat verklaar nie.
Iréne-Mari van der Walt
Een van die Fishrot-beskuldigdes, mnr. Mike Nghipunya, was Vrydag onsuksesvol in sy hofaansoek om die terme “van openbare belang” en “in die belang van regspleging” as ongrondwetlik te laat verklaar.

Nghipunya het beweer dié terme is onverstaanbaar en kan nie behoorlik geïnterpreteer word nie en ’n beskuldigde wat aansoek om borgtog doen, staar ’n onoorkombare struikelblok in die gesig.

Die hofuitspraak het beslis dat dié terme, soos uiteengesit in die Strafproseswet van 1977 en gewysig deur die Strafproseswet 5 van 1991, nie ongrondwetlik is nie en daarom van krag sal bly.

REGTERS STEM NIE OOREEN

Drie regters van die hoërhof het die saak aangehoor, van wie een nie met die beslissing en die bevel saamgestem het nie.

Hoewel regter Herman January met regter Esi Schimming-Chase saamgestem het dat die aansoek van die hand gewys moet word, was regter Thomas Masuku van die mening dat dié terme te vaag is en nie duidelik gedefinieer is in die wet nie.

Hy was van die mening dat dit na die Nasionale Vergadering verwys moet word vir wysiging.

“Ek vind myself in ’n posisie waarin ek met die volste respek nie kan saamstem met die redes wat verskaf is, die slotsom wat bereik is of die bevel wat gegee is nie,” het Masuku in sy uitspraak gesê.

[email protected]

• Bygewerk. ’n Vroeër weergawe van dié berig het in die opskrif en teks dit foutiewelik gestel dat “Nghipunya slaag om wet te laat verander”.

Kommentaar

Republikein 2025-04-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer