Nóg medici glo verbind met moord
Ondersoeke na ’n grootskaalse bedrogsindikaat wat na bewering versekeraars met byna N$2 miljoen bedrieg het, het aan die lig gebring dat opbrengste uit die skema glo gebruik is om logistiek te finansier wat met die moord op Justine Shiweda verbind word.
Altesaam 12 verdagtes het Maandag in die landdroshof op Ondangwa (waar sy beheeraanklaer was) in verband met die beweerde bedrog verskyn.
Nege van die verdagtes is oor die naweek in hegtenis geneem, terwyl drie reeds in aanhouding was.
Network Media Hub (NMH) het verneem dat ondersoeke in Ondangwa met die saaknommer CR 39/01/2026 ’n kriminele sindikaat ontbloot het wat na bewering versekeraars met N$1 957 783,25 bedrieg het deur hospitaalrekords by die staatshospitale van Onandjokwe en Oshakati te manipuleer en mediese geskiedenisrekords te vervals.
Die sindikaat het na bewering mediese beroepslui en hul trawante ingesluit wat mediese paspoorte vervals het, amptelike hospitaalstempels gesteel het en bedrieglike versekeringsuitbetalings gefasiliteer het op grond van versinde of oordryfde mediese toestande.
Hoewel die bedrogsaak afsonderlik vervolg word, het NMH verneem dat opbrengste uit die sindikaat glo gebruik is om fondse en logistieke ondersteuning vir Shiweda se moord te verskaf.
Landdros Lydia Kambonde het die saak aangehoor en dit tot 17 September 2026 uitgestel vir verdere polisieondersoeke en regsverteenwoordiging.
Die verdagtes staar verskeie aanklagte in die gesig kragtens die wet op die bekamping van korrupsie, die wet op die voorkoming van georganiseerde misdaad (Poca) en ander wetgewing, insluitend bedrog, vervalsing en die gebruik van vervalste dokumente, diefstal van staatsbates, geldwassery, sameswering om misdaad te pleeg en korrupte praktyke. Daar word ook beweer dat die groep mediese paspoorte en pasiëntrekords vervals het, hospitaaltoerusting en amptelike stempels misbruik het en onwettige opbrengste deur verskeie bankrekeninge gekanaliseer het.
Verder word beweer dat opbrengste van die skema versteek en in lae deur verskeie bankrekeninge en dopmaatskappye geskuif is.
PROFIELE VAN DIE BESKULDIGDES
Abner Mewiliko Mateus (35)
Mateus word geïdentifiseer as die beweerde hoofbrein van die sindikaat. Hy word daarvan beskuldig dat hy mediese beroepslui en “runners” gekoördineer het en die verspreiding van opbrengste uit bedrieglike versekeringseise bestuur het.
Shikwaya Kuume Petrus (22)
Petrus het na bewering as ’n “runner” en geldwasser opgetree. Hy word daarvan beskuldig dat hy gehelp het om onwettige geld deur dopmaatskappye te verberg en ook bedrieglike versekeringseise ingedien het.
Festus Amwaalwa (36)
As ’n ingeskrewe verpleegkundige by Onandjokwe het Amwaalwa na bewering versekeringspolishouers geïdentifiseer en gehelp om bedrieglike mediese paspoorte te skep. Hy word verder daarvan beskuldig dat hy sy suster se bankrekening gebruik het om omkoopbetalings te ontvang en bedrieglike eise in sy eie naam ingedien het.
Klaudia Martin (34)
Martin word gelys as ’n eiser wat na bewering Sanlam Namibia met N$1 215 506,25 deur vervalste mediese dokumentasie bedrieg het.
Israel Nkandi Shikongo (30)
Shikongo het na bewering as geldwasser opgetree deur sowat N$400 000 via verskeie bankrekeninge te struktureer en te verbloem om die oorsprong van die geld te verdoesel.
Filemon Nakanduungile (39)
Nakanduungile, ’n bekende mediese praktisyn, het na bewering mediese geskiedenisrekords vervals en bedrieglike dokumentasie bekragtig in ruil vir meer as N$200 000.
Carlos Gomes Varela (49)
Varela, ’n Malawiese dokter by Onandjokwe het na bewering mediese rekords vir Martin vervals en meer as N$50 000 vir sy rol ontvang.
Kelsey Kudumo (32)
As ’n leerling-dokter by Onandjokwe, het Kudumo na bewering bloedtoetsuitslae en mediese verslae vervals en glo bloed by pasiënte getrek om mediese “bewyse” te versin wat gebruik is om bedrieglike eise te staaf.
Ottilie Shiwoombili Johannes (34)
Johannes, ’n ingeskrewe verpleegkundige by Onandjokwe, het na bewering gehelp om bedrieglike mediese paspoorte te skep en glo N$40 000 via ’n tussenganger ontvang.
Katsilwa Josua (36)
As nog ’n ingeskrewe verpleegkundige by Onandjokwe, is Josua glo by sy woning in die Ondado-nedersetting in Oniipa in besit van amptelike datumstempels en dokumente van die hospitaal gevind.
Julia Jesica Shaambo (40)
As ’n administrateur by die Oshakati-staatshospitaal het Shaambo na bewering amptelike hospitaalstempels sonder magtiging gebruik om vervalste dokumente te bekragtig en van meer as N$20 000 ontvang.
Martha Tautunyenge Eliphas (36)
As ’n geregistreerde verpleegkundige by Onandjokwe, het Eliphas na bewering N$80 000 in haar kind se bankrekening versteek en geld na haar kêrel, Nakanduungile, gewas.
BORGTOG
Ses van die beskuldigdes – Israel Shikongo, Ottilie Johannes, Katsilwa Josua, Julia Jesica Shaambo, Martha Eliphas en Klaudia Martin – is elk op N$25 000 borgtog vrygelaat.
Hul borgtogvoorwaardes, soos deur staatsaanklaer Yeukai Kangira uiteengesit, vereis dat hulle elke Vrydag tussen 08:00 en 17:00 by hul naaste polisiestasie aanmeld en hul reisdokumente inhandig.
Drie van die verdagtes wat ook met die Shiweda-moordsaak verbind word, is borgtog geweier nadat Kangira hul vrylating teengestaan het, met verwysing na vlugrisiko, moontlike inmenging met ondersoeke en getuies, asook kommer dat hul vrylating nie in die openbare belang of in die belang van die regspleging sou wees nie.
MOORDSAAK UITGESTEL
Intussen is die saak waarin ses beskuldiges van moord en sameswering om Shiweda te vermoor aangekla word, tot 8 April 2026 uitgestel.
Vyf van die beskuldigdes het Maandag in die Ondangwa-landdroshof verskyn en bly in aanhouding.
Die hof het ook aangehoor dat gesprekke voortduur oor die beskuldigdes se toegang tot fone sodat hulle hul regsverteenwoordigers kan kontak.
Lukas Nekwiyu, ook bekend as Mane, word tans by die Oluno-gevangenis aangehou. Abner Mateus (Cota Smith), Petrus Uusiku, Petrus (Kuxa) Shikwaya en dr. Filemon (Fly) Nakanduungile word by die Grootfontein-gevangenis aangehou, terwyl Ngilifavali (Josi) Johannes afwesig in die hof was, omdat hy in Windhoek aangehou word.
In ’n afsonderlike saak sal Petrus Uusiku en Petrus Shikwaya na verwagting op 15 April in die landdroshof in Windhoek verskyn op aanklagte van sameswering om korrupsie te pleeg.
Die ses beskuldigdes staar gesamentlik ses aanklagte in die gesig. Landdros Kaevarua Veruka Njembo was op die bank, terwyl die staat deur Kangira verteenwoordig is.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie