NBC wil nie voormalige werknemer uitbetaal

Ná suksesvolle eis van onbillike ontslag
’n Arbeidsgeskil tussen die NBC en ’n voormalige werknemer draai in die hoërhof nadat die uitsaaier ’n dringende aansoek gebring het.
Rita T. Kakelo

Die Namibiese Uitsaaikorporasie (NBC) het ’n dringende aansoek in die hoërhof ingedien om die betaling van byna N$295 000, wat aan die voormalige werknemer Johannes |Gerub |Gâseb toegeken is ná sy suksesvolle eis oor onbillike ontslag, te stop.

NBC vra die hof om die afdwinging van die toekenning te stop terwyl dit poog om die bedrag te verreken teen beweerde skulde wat, volgens hulle, deur Gaseb verskuldig is.

In reaksie hierop het |Gaseb ’n kennisgewing van voorneme om die dringende aansoek teen te staan ingedien, wat aandui dat die uitsaaier se versoek in die hof betwis sal word. Hy hou vol dat die arbeidsbeslissing in sy guns reeds ’n hofbevel gemaak is en daarom afgedwing behoort te word.

|Gaseb beweer verder dat NBC probeer om betaling deur verdere regstappe te vertraag. Hy het die hof ingelig dat hy tans werkloos is en regshulp genader het vir verteenwoordiging, en hy vra bykomende tyd om sy volledige antwoordende stukke in te dien terwyl hy op regshulp wag.

ONBIILLIKE ONTSLAG 

|Gaseb het aan Network Media Hub (NMH) verduidelik dat hy vir sowat 15 jaar by NBC gewerk het voordat hy ná die NBC-staking van 2021 ontslaan is. 

 Hy het gesê hy was die enigste werknemer wat ná die staking ontslaan is.

“Ek het die ontslag by die arbeidskommissaris betwis en uiteindelik die saak gewen, met die afdanking wat as onbillik bevind is. In plaas daarvan dat ek heraangestel is, is ek vergoeding gelykstaande aan 13 maande se salaris toegeken,” het |Gaseb gesê. 

Hy beweer egter sy finansiële probleme het begin nadat NBC Standard Bank ingelig het dat hy nie meer in diens is nie en versoek het dat geld wat aan ’n waarborgreëling van sy behuisingslening gekoppel is, uit sy pensioenuitbetaling verhaal word.

Volgens |Gaseb het dit toegang tot sy pensioengeld vertraag totdat die toesighoudende owerheid vir finansiële instellings vir Namibië (Namfisa) beslis het dat NBC nie geld van sy pensioen mag aftrek nie.

Hy beweer NBC het later geld direk aan die bank betaal ingevolge sy vroeëre verbintenis en toe probeer om die bedrag by hom terug te vorder.

“Daardie geld is nooit aan my betaal nie. Dit is aan die bank betaal,” het |Gaseb gesê.

Ná hy sy arbeidsaak gewen het, sê |Gaseb, het NBC versuim om die vergoeding binne die vereiste tydperk te betaal of teen die beslissing appèl aan te teken. 

Hy het toe die toekenning as ’n hofbevel laat registreer en afdwingingstappe is deur die arbeidskommissaris en die hoërhof geneem.

Hy glo NBC het eers dringend die hof genader nadat die balju begin het om betaling af te dwing.

“In plaas daarvan om te betaal, het hulle hof toe gejaag om die proses te stop,” het hy gesê.

|Gaseb het gesê hy het sedertdien vir regshulp-verteenwoordiging aansoek gedoen aangesien hy tans werkloos is en nie private regsdienste kan bekostig nie.

“Ek kan nie ’n groot maatskappy in die hoërhof sonder ’n prokureur beveg nie. Ek weier nie om te betaal wat billik is nie, maar hulle wil alles vat,” het hy gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-05-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer