Foto ter illustrasie/argief
Foto ter illustrasie/argief

NBC, Eagle FM verwys vir bemiddeling

Iréne-Mari van der Walt
Die Namibiese Uitsaaikorporasie (NBC) en die plaaslike radiostasie, Eagle FM, is Dinsdag deur regter Lotta Ambunda vir bemiddeling verwys.

Dit hou verband met ’n hofsaak wat deur NBC teen Eagle FM aanhangig gemaak is, waarin die nasionale uitsaaier onder meer beweer dat die private radiostasie ses van hul uitsaaitorings van 1 April 2022 tot Maart 2024 sonder hul medewete, toestemming of ’n geldige huurooreenkoms gebruik het.

Die partye het daarna, op 6 Junie 2024, ’n skriftelike huurooreenkoms aangegaan, wat Eagle FM sou toelaat om die ses uitsaaitorings teen ’n gesamentlike koste van N$32 899,94 per maand te gebruik. Dié bedrag sou jaarliks ​​teen die inflasiekoers aangepas word.

NBC beweer verder dat die eienaar van Eagle FM, John Walenga, mondelings in ’n vergadering in Augustus 2024 erken het dat die radiostasie die uitsaaier ’n bedrag van N$850 774,73 skuld. Op 1 Augustus 2024 het Eagle FM glo N$17 724.47 aan NBC betaal.

NBC beweer in hofstukke dat Eagle FM nie die agterstallige skuld (wat Walenga na bewering mondelings erken het) en die maandelikse huurbedrag tot dusver betaal het nie. Eagle FM skuld dus glo nog gesamentlik N$1 060 064,27.

Die uitsaaier eis in sy aansoek die kansellasie van die huurooreenkoms, die betaling van die bogenoemde bedrag, rente op die bedrag en regskoste.

Eagle FM het Walenga se mondelinge erkenning in die hof ontken en beweer dat NBC geen bewyse gelewer het oor hoe hy by die bedrag van N$850 774,73 uitgekom het nie.

Eagle FM beweer ook die dagvaarding in hierdie aansoek is meer as drie jaar na die aanvang van die kwessie uitgereik. Volgens Eagle FM sou hierdie skuld in die aanhef van die huurkontrak uiteengesit word.

Die radiostasie beweer ook dat hul ooreenkoms met NBC ’n klousule insluit wat voorsiening maak vir enige geskille ingevolge hul ooreenkoms wat deur middel van bemiddeling hanteer sal word.

Eagle FM betwis ook die betaling van N$17 724,47 wat na bewering twee maande na die aanvang van die huurooreenkoms gemaak is.

“[NBC] poog om hierdie betaling toe te skryf aan die betwiste mondelinge erkenning. [NBC] neem nie die hof in vertroue hierin nie, aangesien die betaling op 1 Augustus 2024 gemaak is, byna twee maande na die sluiting van die huurooreenkoms, maar [NBC] poog om dit te laat voorkom asof dit buite die duur van die huurooreenkoms gemaak is om sy bewering te staaf dat daar ’n mondelinge erkenning van skuld was,” lui Eagle FM se verklaring aan die hof.

Verder beweer Eagle FM dat die gehuurde geriewe nie behoorlik in stand gehou is nie; geen lugverkoeling, ventilasie of stoffiltrering gehad het nie en dat die radiostasie gevolglik skade gely het weens onderbrekings in uitsendings as gevolg van die oorverhitting van toerusting en die gevolglike herstelkoste.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-01-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer