• Tuisblad
  • Howe
  • Nampol skik met werklose ná hy in been geskiet is

Nampol skik met werklose ná hy in been geskiet is

Rita Kakelo
’n Werklose man van Walvisbaai wat vier keer in die been geskiet is terwyl hy in November 2021 weggooihoender by ’n stortingsterrein opgetel het, sal slegs N$15 000 in vergoeding ontvang van die N$800 000 wat hy aanvanklik geëis het vir fisieke beserings, emosionele trauma, en pyn en lyding.

Vilho Shatika en verskeie ander – hoewel nie almal deel is van die regsgeding wat in die hoërhof in Windhoek aanhangig gemaak is nie – het byna vier jaar gelede probeer om koeëls te ontduik toe lede van die Namibiese polisie glo op hulle losgebrand het om te verhoed dat hulle toegang tot ’n stortingsterrein kry om weggooihoenders op te tel.

Die verweerders – die Namibiese polisiehoof, inspekteur-generaal Joseph Shikongo, en die ministerie van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit – het die bewerings wat Shatika teen hulle gemaak het, aanvanklik heftig ontken, maar het verlede week tot ’n skikking van N$15 000 ingestem. Die geld moet binne 60 dae aan Shatika se regsverteenwoordigers, Brockerhoff & Associates, betaal word.

Die bepalings van die skikkingsooreenkoms vereis dat hierdie betaling gemaak word as ’n volle en finale skikking van alle eise, en geeneen van die partye mag verdere regstappe rakende die saak neem nie.



ONVERSKILLIG

In sy eisbesonderhede het Shatika beweer dat polisiebeamptes onverskillig op hom en ander geskiet het, wat hom en vier ander gedwing het om in nabygeleë riete weg te kruip.

Hy het beweer dat een polisiebeampte hom opgespoor, op hom losgebrand en hom vier keer in sy linkeronderbeen getref het. Hy is later deur munisipale werkers gered en na die Walvisbaaise staatshospitaal geneem. Mediese personeel het Shatika se veelvuldige wonde bevestig waar koeëlpunte in sy been vasgesit het.

In hul amptelike reaksie het Nampol egter gesê hulle het geen kennis van die beweerde gebeure gedra nie en geëis dat Shatika sy bewerings in die hof bewys. Hulle het ontken polisielede was betrokke by enige skietery of die blokkering van toegang tot die stortingsterrein waar honger mense na kos gesoek het.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-07-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer