Namdia se waarnemende uitvoerende hoof, Lelly Usiku. Foto verskaf
Namdia se waarnemende uitvoerende hoof, Lelly Usiku. Foto verskaf

Namdia kan glo nie Rubicon se kontrak vind

Xiphos Protection Group ook op die toneel
Namib Desert Diamonds het bevestig dat die sekureitsmaatskappy ’n diensverskaffer was toe die diamantrooftog plaasgevind het.
Sonja Smith

Namib Desert Diamonds (Namdia) sê hy kan nie die kontrak opspoor waarvolgens Rubicon Security Services sekuriteitsdienste by sy perseel gelewer het toe diamante ter waarde van meer as N$300 miljoen in Januarie verlede jaar gesteel is nie. 

Die bekendmaking is vervat in ’n beëdigde verklaring wat deur Namdia se waarnemende uitvoerende hoof, Lelly Usiku, op 17 September 2026 in die hoërhof ingedien is as deel van die maatskappy se siviele geskil met G4S Secure Solutions Namibia. 

Namdia dagvaar G4S vir sowat N$314 miljoen oor die sekuriteitsdienste wat die maatskappy gelewer het toe gewapende verdagtes Namdia se hoofkantoor in Klein Windhoek op 18 Januarie 2025 betree het, werknemers en sekuriteitspersoneel vasgebind het en honderde pakkies diamante gesteel het. 

Namdia beweer dat G4S grof nalatig was met die lewering van afstandmonitering en gewapende reaksiedienste tydens die rooftog. G4S betwis die eis en het toegang tot dokumente aangevra wat met Namdia se sekuriteitsreëlings verband hou as deel van sy verweer. 

Onder die dokumente wat aangevra is, was Namdia se ooreenkoms met Rubicon Security Services. Usiku het gesê Namdia het na die ooreenkoms gesoek, maar kon dit nie opspoor nie. 

“Die eiser is ondanks alle redelike pogings wat aangewend is en soektogte wat gedoen is, nie in staat om ’n afskrif van die kontrak tussen hom en Rubicon Security Services met betrekking tot die lewering van sekuriteitsdienste op sy perseel te vind nie,” het Usiku gesê. 

Sy het nietemin bevestig dat Rubicon ’n diensverskaffer van Namdia was toe die gewapende rooftog plaasgevind het. 

“Die proses hoe Rubicon aan boord gekom het, het plaasgevind in ’n tyd vóór die totstandkoming van die eiser se verkrygingsafdeling. Die eiser kan egter hiermee bevestig dat Rubicon ook ’n diensverskaffer was ten tyde van die voorval,” het Usiku gesê. 

Haar beëdigde verklaring meld geensins wanneer Rubicon aangestel is, hoe die aanstelling gedoen is, wie dit goedgekeur het, die waarde of duur van die kontrak, of die presiese dienste waarvoor Rubicon gekontrakteer is nie. 


RUBICON-WAG VASGEBIND

Rubicon se teenwoordigheid by die Namdia-perseel op die dag van die rooftog het ook na vore gekom in getuienis wat tydens strafregtelike verrigtinge wat uit die rooftog spruit, voorgehou is. 

Hoofinspekteur Simeon Nghilalulwa van die Namibiese polisie het tydens hofverrigtinge getuig oor ’n Rubicon-sekuriteitswag wat slegs as Herman geïdentifiseer is, wat na bewering onder die sekuriteitspersoneel was wat tydens die rooftog vasgebind is. 

Nghilalulwa het ook getuig dat ondersoekers ’n geskrewe plan in ’n voertuig gevind het wat aan die hoofbedryfsbeampte van die Trustco Group se interne en forensiese ondersoekeenheid, wyle Max Endjala, behoort het, wat die staat beweer by die rooftog betrokke was. 

Volgens Nghilalulwa se getuienis het die dokument aspekte van die beplande rooftog uiteengesit, insluitend die vasbind van sekuriteitswagte, die rondstrooi van diamante en die gebruik van ’n wegkomvoertuig. 

Namdia se senior sekuriteitsbeampte, Francis Eiseb, is tydens die rooftog doodgeskiet, terwyl Endjala aan sy skietwonde beswyk het. 


XIPHOS-RAAISEL 

Hofdokumente plaas ook ’n derde sekuriteitsmaatskappy, Xiphos Protection Group, by Namdia se perseel op die dag van die rooftog. Usiku sê egter Xiphos het nie op daardie tydstip sekuriteitsdienste aan Namdia gelewer nie.

“Xiphos Protection Group was nie ’n sekuriteitsdiensverskaffer aan die eiser gedurende die tyd van die voorval nie,” het sy gesê. 

Volgens die hofdokumente is Xiphos kort ná die rooftog deur Namdia aangestel via wat as ’n “krisiskomitee” beskryf is, met vrae wat geopper is oor of Namdia se interne verkrygingsprosedures gevolg is. Die dokumente verduidelik nie watter rol Xiphos-personeel op die dag van die rooftog by Namdia se perseel vervul het nie, wie hul teenwoordigheid versoek het nie, of onder watter gesag hulle daar was nie. 


SEKURITEITSREKORDS NIE BESKIKBAAR

Die Rubicon-ooreenkoms is nie die enigste sekuriteitsverwante rekord wat Namdia sê hy nie in die siviele verrigtinge kan voorlê nie. Usiku het gesê Namdia het geen kringtelevisie (CCTV)-beeldmateriaal of klankopnames van die voorval nie, omdat die elektrisiteitsvoorsiening na die perseel vóór die rooftog ontkoppel is. 

“Daar is geen CCTV-beeldmateriaal en klankopnames van die voorvalle nie, aangesien die elektrisiteitsvoorsiening na die perseel deur die oortreders vóór die voorval ontkoppel is,” het sy gesê. 

Volgens Usiku beskik Namdia oor sy standaardbedryfsprosedure, sekuriteitsplan en nakomingsrekords wat vir die voorval relevant is, maar het dit nie instandhoudingsrekords vir sy sekuriteitstoerusting wat die maande vóór die rooftog dek nie. 

“Die eiser is bowendien nie in besit van enige diens- of instandhoudingsrekords vir alarmpanele, CCTV-toerusting of ander sekuriteitstoerusting by sy perseel vir die tydperk Junie 2024 tot Januarie 2025 nie, aangesien geen sodanige rekords bestaan nie,” het Usiku gesê. 

G4S soek die dokumente as deel van sy verweer teen Namdia se skade-eis. 

Die strafregtelike verrigtinge en Namdia se siviele eis teen G4S bevat verskillende syfers vir die betrokke diamante. In die strafsaak beweer die staat dat 512 pakkies diamante ter waarde van ongeveer N$335 miljoen tydens die rooftog gesteel is. 

Namdia se siviele eis teen G4S is intussen vir ongeveer N$314 miljoen in beweerde verliese wat uit die voorval voortspruit. 

Volgens die strafsaak teen die beskuldigdes is diamante ter waarde van sowat N$40,6 miljoen teruggevind, terwyl 452 pakkies met ’n waarde van ongeveer N$295 miljoen na bewering steeds nie teruggevind is nie. 

Die voormalige Namdia-sekuriteitsbeampte en polisieman en wyle Endjala se neef, Joel Angula, oudsoldaat Sam Shololo en die voormalige G4S-sekuriteitswag, Samuel Shipanga, sal in die hoërhof verhoor word op aanklagte wat uit die rooftog spruit. 

Die drie is nie skuldig bevind nie en die bewerings teen hulle moet nog deur die hoërhof beslis word. 

Die siviele verrigtinge tussen Namdia en G4S staan los van die strafregtelike vervolging.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-11-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer