NAC-raad: /Uirab kan nie toesig ontduik
Die raad van die Namibië Lughawensmaatskappy (NAC) het sy bevoegdheid verdedig om verduidelikings van die uitvoerende hoof, Bisey /Uirab, te eis en voer aan dat sy posisie as rekenpligtige beampte hom nie buite die toesig van die direkteure plaas nie.
Dit word onthul in ’n beëdigde verklaring voor die hoërhof deur die maatskappy se raadsvoorsitter, Rosalinde Nakale, wat aanvoer dat /Uirab se bewering dat sy pligte teen inmenging beskerm behoort te word, hom nie immuniteit teen toesigverantwoordelikhede gee nie.
Die raad se verweer volg op /Uirab se dringende hofaansoek vroeër vandeesmaand waarin hy besluite en optrede deur die minister van werke en vervoer, Veikko Nekundi, en die NAC-raad betwis.
“Die NAC is ’n maatskappy. Sy besigheid word deur of onder leiding van sy raad bestuur. Die uitvoerende hoof oefen die bevoegdhede uit wat die raad aan hom delegeer en is aan die raad aanspreeklik,” het Nakale gesê.
Sy het gesê die wet op die bestuur van openbare ondernemings maak die raad verantwoordelik vir die bestuur en prestasie van die maatskappy, terwyl die uitvoerende hoof se prestasie teen ’n ooreenkoms met die raad gemeet word.
“Sy aanwysing as rekenpligtige beampte ingevolge die Wet op Openbare Verkryging 45 van 2015 stel hom nie vry daarvan om aan die raad rekenskap te gee nie. Dit maak hom aanspreeklik vir verkryging,” het sy gesê.
In die kern van die geskil is ’n brief gedateer 21 Oktober 2026, wat Republikein gesien het, waardeur die raad verduidelikings, inligting en opdaterings van bestuur oor nege aangeleenthede versoek het wat werknemers, dissiplinêre prosesse, finansiële verhalings en maatskappyvoertuie betrek.
Nakale hou vol die brief het nie die aanbevelings van die ministerie se ondersoekverslag geïmplementeer nie, wat onder meer die afdanking van /Uirab en twee ander uitvoerende hoofde – Josephine Soroses en Ralph !Gaoseb – aanbeveel het.
“Die brief van 21 Oktober, waarop die uitvoerende hoof se dringendheid berus, dreig niks teen hom persoonlik nie. As ’n geheel gelees, vra dit bestuur vir inligting, verduidelikings en aanbiedings, met sperdatums van 27 tot 31 Oktober 2026.
“Die raad steun nie op die verslag as bewys van enigiets nie. Dit het die rekords en verduidelikings opgevra wat dit nodig het om self te besluit. Só hanteer ’n verantwoordelike raad aantygings uit enige bron,” het Nakale gesê.
NEGE KWESSIES
Nakale het ’n tabel weergegee wat die nege aangeleenthede uiteensit wat in die raad se brief geopper is en wat bestuur moes voorsien.
Die eerste het die vergoedingspakket van Jason Kweyo betref – NAC se bestuurder vir brand- en reddingsdienste by die Hosea Kutako Internasionale Lughawe (HKIA) – met die raad wat inligting oor sy pakket voor en ná die omskakeling daarvan na totale koste vir die maatskappy, versoek het.
Kweyo se saak is tans by die arbeidskommissaris se kantoor.
Die tweede het beide Kweyo en Sebulon Huiseb betrek, met die raad wat ’n voorlegging aan die subkomitee van menslike hulpbronne oor hul dissiplinêre aangeleentheid versoek het, gesteun deur bewyse van albei kante.
Die derde het die afdanking van die voormalige werknemer, Wilhem Anghuwo, betref. Die raad het ’n interne onafhanklike hersieningskomitee deur die raad aangestel, versoek om aan hom terug te rapporteer.
Die vierde het Monalisa Jacobs se voertuig betref. Die raad het die onttrekking van die voertuig en die verhaling van brandstof- en herstelkoste van twee werknemers versoek.
Die vyfde en sesde aangeleenthede betrek Briggitte Riruako en Rauna Kayambu. In Riruako se geval – het die raad ’n opdatering versoek oor regstellende optrede waartoe bestuur self in die interne oudit-opdateringsverslag verbind het. Met betrekking tot Kayambu – het dit regstelling en ’n opdatering teen 31 Oktober 2026 versoek.
Die sewende aangeleentheid het Nguundja Mupurua se studielening betref – die raad het ’n opdatering versoek oor terugbetalings, beleid en die delegasie van bevoegdheid wat toegepas is.
Die agtste het NAC se hoofregsadviseur, Lot Haifidi, en die verhaling van N$128 128 betref. Die raad het ’n opdatering oor die verhaling teen 27 Oktober 2026 versoek. Haifidi het verlede maand uit die maatskappy bedank.
Die negende aangeleentheid het maatskappyvoertuie betref – die raad het verduidelikings, tesouriegoedkeuring, beleide en betaalstaat-aanbiedings teen 28 Oktober 2026 versoek.
“’n Raad wat sy uitvoerende hoof vra om rekenskap te gee oor aangeleenthede wat in ’n ondersoek na die maatskappy geopper is, doen presies wat hy aangestel is om te doen,” het Nakale gesê.
Sy het gesê die raad se versoeke is ook deur die maatskappy se eie interne prosesse ingelig, eerder as om uitsluitlik op die ministerie se verslag staat te maak.
Die saak is vir vandag vir verhoor op die rol geplaas.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie