N$15 000 vir onbetwiste egskeidingsake in hoërhof
Hoofredaksie – Vir baie ongelukkige egpare in Namibië wie se paadjies skei, kom ’n egskeiding nou teen ’n prys van N$15 000 — selfs wanneer beide partye saamstem.
Dit is die koste van ’n onbetwiste egskeiding wat ingevolge die hoërhofwet deur regter-president Petrus Damaseb uitgevaardig is.
Die wet het op 1 Mei 2026 in werking getree en bied tot dusver die mees gedetailleerde uiteensetting van hoe regskoste oor verskillende fases van litigasie opstapel.
Op papier lyk toegang tot die howe steeds bekostigbaar, met die instelling van ’n regsaksie of aansoek wat N$500 beloop, terwyl ’n volmag vir appèlle net N$5 kos.
Die indiening van ’n kennisgewing van appèl of die bepaling van ’n kosterekening (taxing a bill of costs) kos N$2 500 – bedrae wat daarop dui dat die regstelsel vir die meeste Namibiërs binne bereik bly. Maar daardie intreevlaktariewe vertel net ’n klein deel van die storie.
Sodra ’n saak verder as indiening beweeg en regsverteenwoordiging ter sprake kom, skiet koste vinnig die hoogte in onder die nuwe tariefstruktuur.
Die hersiene reëls stel ’n allesomvattende stelsel van professionele tariewe vir standaard- en onbetwiste sake in, wat konsultasies, die opstel van dokumente, hofverskynings en administratiewe werk dek, maar hoftariewe en dienskoste uitsluit.
’n Onbetwiste egskeiding, wat dikwels as eenvoudig aanvaar word, beloop nou ’n vaste professionele tarief van N$15 000. Ander roetine-regsprosesse kom ook teen ’n koste: N$5 000 vir ’n onbetwiste Reël 55-aansoek; N$8 000 vir ’n verstekvonnis sonder skadevergoeding; en N$10 000 vir ’n verstekvonnis met skadevergoeding.
Aansoeke om summiere vonnis word op N$15 000 vasgestel, terwyl die verkryging van toestemming om te dagvaar deur plaasvervangende betekening (substituted service costs) N$8 000 beloop.
Uitstellings, verdagings of die verwydering van ’n saak van die hofrol kos N$2 000, terwyl aansoeke om ’n vonnis te herroep N$8 000 beloop.
Onbetwiste sekwestrasie-, likwidasie-, rehabilitasie- en kuratorskapsake word op N$20 000 vasgestel.
Koste styg nog verder wanneer sake betwis word. Tariewe vir regspraktisyns in ingewikkelde hoërhofsake kan tot N$60 000 per dag beloop, afhangend van die senioriteit van die regsverteenwoordiger en die aard van die geskil.
EIENDOM
Die grootste finansiële druk kom egter in die afdwingingsfase na vore.
Wanneer daar op eiendom beslag gelê en verkoop word om skuld te vereffen, hef adjunkbalju’s ’n heffing van 5% op die verkoopopbrengs. Dié tarief word beperk tot N$150 000 vir residensiële eiendom en N$300 000 vir nieresidensiële eiendom, wat dit die enkele duurste element in die tariefstruktuur maak.
Bykomende koste – insluitend waardasie, advertensies, die voorbereiding van distribusierekeninge en kennisgewings aan skuldeisers – verhoog die finansiële las verder.
Tydgebaseerde heffings van N$137,50 per halfuur geld vir verskeie afdwingingsoptrede, terwyl die berging van gekonfiskeerde eiendom tot N$480 per dag kan beloop.
In sommige gevalle word hierdie uitgawes aangegaan selfs wanneer ’n verkoopstransaksie nie voortgaan nie, soos wanneer ’n beslaglegging teruggetrek of ’n proses gestop word.
Die hersiene tariewe weerspieël ook ’n skuif na digitale prosesse, met elektroniese afskrifte van hofrekords wat N$500 kos en oudio- of video-opnames wat N$500 per sessie beloop.
Belasting op toegevoegde waarde (BTW) is oor die hele spektrum van toepassing, wat die werklike koste nog verder opstoot.
Namibië het tans die derde hoogste egskeidingsyfer in Afrika, ná Suid-Afrika en Tunisië


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie