Munisipaliteit vat sy eie tender hof toe
Mariental se munisipale raad het die hoërhof versoek om ’n tender vir die opgradering van infrastruktuur by die dorp se hoofreservoir te skrap.
Dié stap volg op die ontdekking dat die tenderdokumente evalueringsreëls bevat wat nie wetlik van toepassing is nie.
Die tender behels die opgradering van die infrastruktuur vir watervoorsiening, asook die konstruksie van ’n versterkerpompstasie (booster pump station) en ’n pompgebou (pump house) by die hoofreservoir.
Die munisipaliteit se uitvoerende hoof, Paul Nghiwilepo, sê in hofstukke die tender is aanvanklik op 9 Oktober 2025 aan NEG Investments CC toegeken.
Dié toekenning is egter later deur die hersieningspaneel vir openbare verkryging ter syde gestel. Die munisipaliteit is gelas om die kwalifiserende tenders met behulp van die oorspronklik geadverteerde kriteria te herevalueer en sonder om ’n onbekende 70:30-formule toe te pas.
Hy sê in hofstukke die probleem strek egter verder as die betwiste toekenning, aangesien die munisipaliteit ontdek het dat die tenderdokument teenstrydige evalueringsvereistes bevat het.
Een afdeling het na bewering bepaal dat die kwotasie met die laagste waarde gekies sou word, terwyl ’n ander ’n formule ingestel het wat 30% aan prys en 70% aan tegniese oorwegings toegeken het.
Volgens Nghiwilepo was laasgenoemde metodologie nie op hierdie spesifieke verkryging van toepassing nie.
Daarbenewens het die munisipaliteit per abuis vereistes toegepas wat op ’n ander vorm van verkryging betrekking gehad het.
Nghiwilepo sê dit beteken die probleem kan nie net reggestel word deur bloot terug te gaan en die tenders te herevalueer nie.
“Die grondslag van die verkrygingsproses is fundamenteel gebrekkig en kan nie ’n wettige, rasionele herevaluering ondersteun nie,” het hy gesê.
Volgens Nghiwilepo sou die voortsetting van ’n herevaluering tenderaars laat deelneem aan wat die munisipaliteit nou as ’n onwettige proses beskou.
“Sou die applikant met die respondent se bevel voortgaan, sal dit ’n onwettige situasie laat voortduur.”
Die munisipaliteit se voorkeuroplossing is om die hele verkrygingsproses te kanselleer en die proses van voor af te begin. Dit kan verdere vertragings vir die projek beteken wat daarop gemik is om waterinfrastruktuur op Mariental te verbeter, terwyl die raad nuwe tenderdokumente voorberei, die tender adverteer, tenders ontvang en dit weer moet evalueer.
Nghiwilepo se beëdigde verklaring verskaf nie ’n syfer vir die koste van die proses wat nou van voor af moet begin nie en meld ook nie hoeveel geld reeds aan die verkrygingsproses bestee is nie.
Teen druktyd is nog geen beantwoordende beëdigde verklarings deur die voorsitter van die hersieningspaneel vir openbare verkryging, Pakam Investments CC, NEG Investments CC of GM Electro Mechanical Solutions CC ingedien nie.
Die saak het Dinsdag voor regter Hannelie Prinsloo gedien vir ’n statusverhoor. Die munisipaliteit word deur Astrid Feris verteenwoordig en Pakam Investments CC deur Yolandi Ludwig. – [email protected]


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie