Moordenaar desperaat vir parool

Meer as 26 jaar agter tralies
'n Gevangene in die Windhoek Sentrale Gevangenis doen aansoek vir 'n hofbevel om weer in aanmerking vir parool te kom.
Kristien Kruger
“Alhoewel ek reeds meer as 26 jaar [tronkstraf] uitgedien het, is ek steeds sonder enige hoop om ooit ’n lewe buite hierdie tronkmure te sien en te beleef.”

So lui die verklaring van ’n gevangene in die Windhoek Sentrale Gevangenis, Lawrence Adams, wat in Desember 1995 tot lewenslange tronkstraf gevonnis is op klagte van moord en diefstal.

Hy het verlede jaar die hoërhof genader om die minister van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit en die Namibiese Korrektiewe Dienste (NSC) te beveel om hom voor die nasionale vrylatingsraad te bring om sy vrylating op parool te oorweeg.

Adams beweer hy is gevonnis toe die Tronkwet no. 8 van 1959 nog van toepassing was en ingevolge dié wet kom hy glo ná tien jaar tronkstraf in aanmerking vir parool.

Hy is wel in 2016 vir parool oorweeg, maar volgens die hoof van die NSC se afdeling vir regsdienste, kommissaris Michael Louis Tsuseb, se verklaring is sy vrylating afgekeur aangesien die betrokke partye geglo het daar is ’n kans dat hy weer misdrywe sal pleeg indien hy vrygelaat word.

“Adams het in Desember 2016 die geleentheid gehad om op parool vrygelaat te word en as dit nie vir sy dissiplinêre oortredings was nie, sou hy lankal op vrye voet wees.”

OORTREDINGS

Volgens Tsuseb se verklaring was Adams tydens sy aanhouding skuldig bevind op klagte van poging tot moord, die besit van dwelms en ontsnapping uit aanhouding.

“Dit is belangrik om daarop te let dat ten spyte om vir parool te kwalifiseer, is sy vrylating ook onderhewig aan sy verdienstelike gedrag, selfdissipline, verantwoordelikheid en hardwerkendheid gedurende sy tyd in aanhouding.”

“Hy is nie op parool vrygelaat nie, maar eerder aangeraai om intensiewe rehabilitasie- en ingrypingsprogramme by te woon om hom te help om sy gedrag te verander,” het Tsuseb in sy verklaring gesê.

Adams het ingestem om aan dié programme deel te neem, maar beweer dit is ’n manier om sy aanhouding verder uit te rek.

“Dit is asof die programme deur die owerhede saamgestel is om my vrylating uit die tronk te vertraag nadat ek reeds 26 jaar tronkstraf uitgedien het,” beweer Adams in sy verklaring.

GOEIE GEDRAG

Adams erken in sy verklaring hy is skuldig bevind aan dissiplinêre oortredings, maar beweer hy het ’n poging aangewend om sy gedrag te verander en dat hy in 2013 laas ’n misdryf gepleeg het.

“Dit was lankal tyd vir my vrylating en ek wil geleenthede gegun word om ’n beter lewe vir myself en my gesin te bou en ’n positiewe bydrae tot die samelewing te maak.”

Die saak is onlangs tot 29 Maart uitgestel om vir partye geleentheid te gee om oor skikkings te onderhandel.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-06-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer