Miljoene vir verkeerde nier
Die regering moet pa staan vir die betaling van N$5 miljoen aan ’n pasiënt wie se verkeerde nier glo tydens ’n chirurgiese prosedure verwyder is.
Die mislukte operasie het ’n inwoner van Katutura vir die res van sy lewe – drie keer per week – van hemodialise afhanklik gemaak.
Die eis vir skadevergoeding wat buite die hof geskik en op 30 Maart onderteken is, het ’n hoërisiko-eis van N$40 miljoen vir mediese nalatigheid tot ’n einde gebring wat by die hoërhof ingedien is.
Die staat het onderneem om die bedrag binne 90 dae in die trustrekening van prokureur Norman Tjombe, wat die pasiënt Lucius Kondjeni verteenwoordig het, te betaal.
Hofdokumente toon dat die mislukte operasie op 29 Julie verlede jaar plaasgevind het. Volgens Kondjeni se verklaring is hy in die Windhoek Sentrale Hospitaal vir ’n omvattende mediese assessering opgeneem. Dit het ingesluit fisiese ondersoeke, bloedtoetse en skanderings wat sy gepaste behandeling sou bepaal.
Kondjeni het beweer die hospitaal se personeel het versuim om behoorlike diagnostiese prosedures uit te voer en gevolglik is ’n radikale nefrektomie op sy gesonde linkernier uitgevoer, eerder as die “siek” regternier.
Volgens hom is hy eers ’n paar dae ná die operasie in kennis gestel dat die verkeerde nier verwyder is. Die gevolge was “onmiddellik en verwoestend”, volgens Kondjeni. Sy oorblywende nier het minimale funksionaliteit wat hom vir die res van sy lewe drie keer per week van hemodialise afhanklik maak.
Kondjeni was ook maande – tot 30 September 2025 – ná die operasie in die hospitaal en verduur steeds erge fisieke pyn, emosionele trauma en beduidende ontwrigting van sy daaglikse lewe.
Benewens die uitbetaling van N$5 miljoen, verplig die skikkingsooreenkoms die regering om voort te gaan om mediese behandeling aan Kondjeni by staatsgeriewe te verskaf. Waar nodig, sal die staat ook die koste van nierdialise by private geriewe dek, onderhewig aan mediese aanbevelings.
VAN EIS TOT ’N SKIKKING
In sy oorspronklike eisbesonderhede het Kondjeni N$1 miljoen vir die verlies aan toekomstige inkomste en N$20 miljoen in algemene skadevergoeding geëis.
Laasgenoemde het verwys na die erge pyn wat hy ervaar, sy permanente mediese ongeskiktheid, emosionele trauma en sy verminderde vermoë om ’n inkomste te kan verdien.
Kondjeni het verder ’n grondwetlike skadevergoedingseis van N$20 miljoen teen die staat ingestel en aangevoer dat die beweerde nalatigheid sy fundamentele regte geskend het. Dit sluit in die reg op lewe, die reg op menswaardigheid en die reg om ’n bestaan te maak.
Die regsgeding is op verskeie regsgronde aanhangig gemaak, insluitend kontrakbreuk en nalatigheid. Dit hou verband met die feit dat die staat glo nie sy toestand behoorlik beoordeel en hom beskerm het terwyl hy onder die staats se mediese sorg was nie.
Kondjeni het aangevoer dat die regering en sy werknemers versuim het om hul sorgplig na te kom deur nie behoorlike mediese assesserings uit te voer nie, hom nie tydens behandeling beskerm het nie en die verkeerde chirurgiese prosedure uitgevoer het.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie