Mediese vrylating vir gevangene aanbeveel
’n Gevangene wat bedleênd is, nie kan loop of praat nie en bedsere ontwikkel het, het ’n hofstryd gewen om weens sy mediese toestand vir vrylating uit die tronk oorweeg te kan word.
Hoërhofregter Boas Usiku het Maandag ’n besluit van die mediese beampte by die Windhoekse gevangenis ter syde gestel wat geweier het om die 50-jarige moordenaar, Khamastar Erwin Ndukireepo, vir vrylating op mediese gronde aan te beveel.
Ndukireepo het ’n man doodgeskiet en is op 10 Desember 2020 tot 20 jaar gevangenisstraf gevonnis waarna hy geappelleer en selfverdediging aangevoer het. Sy appèlsaak is op 8 April 2022 van die hand gewys en hy dien tans sy vonnis by die gevangenis in die hoofstad uit.
Sy gesondheid het ernstig agteruit gegaan na ’n voorval in Februarie 2024 by die Namibiese Korrektiewe Diens (NCS) in die Hardapstreek. Volgens hofstukke het hy wakker geword met erge pyn in sy lae rug, kon hy nie loop, urineer of normale stoelgang hê nie. Hy is eers 21 dae later hospitaal toe geneem en is sedertdien bedlêend.
Ndukireepo het sedertdien sy vermoë om te praat, verloor en nie kan skryf nie, alhoewel hy steeds kan lees en hoor. Hy is afhanklik van ander vir basiese funksies, insluitend voeding, bad, aantrek, toiletgebruik en die verandering van posisie in die bed.
Ndukireepo is gediagnoseer met myeloradikulopatologie, ’n toestand wat die rugmurg en senuwees by sy rugmurg aantas en hom verlam gelaat het.
Twee mediese spesialiste, drs. Ismael Katjitae en Sara Ndengu, het ná hul mediese ondersoeke aanbeveel dat hy in ’n gepaste tuis- of mediesgebaseerde sorgomgewing buite die tronk vrygelaat word.
Katjitae het gewaarsku dat Ndukireepo se toestand aansienlik versleg het en dat hy bedsere ontwikkel het as gevolg van langdurige immobiliteit en onvoldoende kapasiteit om hom gereeld te draai en te verpleeg.
Hy het verwys na die risiko van bedsere wat infeksie kan veroorsaak, wanvoeding, ontwatering, herhaalde hospitalisasie en voortydige dood sou die situasie voortduur.
Ndengu het eweneens mediese ontslag aanbeveel. Sy het gesê Ndukireepo benodig langtermyn- ondersteunende sorg, wondsorg, hulp met voeding, higiëne, deurlopende verpleegtoesig en sy liggaam moet gereeld gedraai word.
Ten spyte hiervan het die mediese beampte geweier om sy vrylating in Maart 2026 aan te beveel.
Die mediese beampte het gesê Ndukireepo se lewensbelangrike organe en algehele fisiese toestand het vir ongeveer ’n jaar klinies stabiel gebly en dat sy toestand binne die korrektiewe gesondheidstelsel bestuur kon word.
Volgens Usiku het die mediese beampte egter versuim om behoorlik met die bevindinge van die twee spesialiste om te gaan, veral hul getuienis dat Ndukireepo se toestand mettertyd versleg het en dat hy bedsere ontwikkel het.
Die regter het bevraagteken hoe die korrektiewe geriewe as geskik beskou kon word om sy toestand te bestuur wanneer daar bewyse van voortgesette agteruitgang was.
Usiku het bevind dat die redes waarop die mediese beampte staatgemaak het, “nie deur bewyse ondersteun is nie” en dat die besluit “rasionaliteit ontbreek”.
Die regter het ook bevind dat Ndukireepo se grondwetlike reg op waardigheid nie gerespekteer is nie, veral gegewe sy getuienis dat sy doeke in die volle sig van ander gevangenes omgeruil is en hy op medegevangenes vir basiese ondersteuning staatgemaak het.
“Deur daarop aan te dring dat die aansoeker in aanhouding bly ten spyte van sy huidige fisiese toestand totdat toekomstige herevaluering anders bepaal, kan dit na my mening nie as menslike behandeling beskou word wat versoenbaar is met respek vir menswaardigheid nie,” het Usiko gesê.
Die mediese beampte se besluit is gevolglik hersien en ter syde gestel. Dit hof het egter nie self die gevangene se onmiddellike vrylating gelas nie. In plaas daarvan is die mediese beampte gelas om sy vrylating op mediese gronde kragtens Artikel 109 van die wet op korrektiewe dienste binne tien 10 hofdae aan te beveel.
Die kommissaris-generaal van die NCS en die beampte in beheer van die gevangenis in Windhoek, is ook gelas om Ndukireepo se regskoste te betaal.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie