Man erken aanranding van sy 8-jarige seun
Anthony Doeseb (36) het skuldig gepleit op die aanranding van sy agtjarige seun in Swakopmund Vrydag.
Dit volg nadat ’n video van sy buurman oor die voorval opslae op sosiale media gemaak het en tot sy inhegtenisname Sondag gelei het.
Doeseb het Maandag sy eerste verskyning in dié saak in die landdroshof van Swakopmund gemaak en staar aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer, asook die oortreding van die wet op kindersorg en -beskerming, in die gesig.
Verder is borgtog vir Doeseb deur die kind se ma teengestaan, wat aangedui het dat sy vrees dat die beskuldigde vrygelaat word. Die hof het hom meegedeel dat hy in aanhouding sal bly, maar dat hy die reg het om ’n amptelike borgtogaansoek te bring.
Die saak is tot 29 April vir verdere ondersoek uitgestel.
Doeseb is deur ’n buurman op video vasgevang terwyl hy die seun mishandel het – skynbaar herhaaldelik met een hand klap en slaan, terwyl hy met die ander hand die kind se arm vashou. Hy word ook gesien waar hy sy vinger vir die seun swaai. Die video is langer as ’n minuut.
Die kind kan gehoor word hoe hy skree en probeer om die herhaalde houe te probeer ontduik en soms daarin slaag om die swaaiende klappe te ontwyk.
Die getuie wat die voorval op video opgeneem het, kan gehoor word waar hy sê die beskuldigde se seun is “sy eie seun; sy eersgeborene”.
Toe die seun op die grond val, skree die getuie verskeie kere na die beskuldigde: “Hou op! Moenie die seun so slaan nie!”
Dit blyk dat die beskuldigde na die getuie kyk, maar steeds met die aanranding voortgaan.
Die voorval is by die polisie aangemeld en Doeseb is Sondag in hegtenis geneem.
Dit is egter nie sy eerste botsing met die gereg nie. Maandag moes hy aan die hof verduidelik waarom hy op 17 Februarie versuim het om in die hof te verskyn in ’n ander saak van aanranding met die doel om ernstig te beseer wat terugdateer na 2022.
’n Lasbrief vir sy inhegtenisname is uitgereik, maar hy het aan die hof gesê hy was siek en deur ’n dokter afgeboek. Die beskuldigde het gesê hy het twee dae later hof toe gekom om die doktersbrief in te dien, maar die landdroste was toe nie beskikbaar nie. Hy het Maandag die mediese sertifikaat aan die hof voorgelê en die lasbrief is teruggetrek.
Daardie saak is tot 7 Julie uitgestel.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie