• Tuisblad
  • Howe
  • Likwidateur hanteer eis teen ‘brandarm’ Dippenaar

Likwidateur hanteer eis teen ‘brandarm’ Dippenaar

Joschko moet wag vir N$5 miljoen
Ian McLaren van Bruni & McLaren is aangestel om die veroordeelde moordenaar se betaling van skadevergoeding aan die Duitse burger te hanteer, wie se ouers en suster in ’n motorongeluk gesterf het.
Rita T. Kakelo

Die veroordeelde moordenaar Jandré Dippenaar, wat gelas is om sowat N$5 miljoen in ’n siviele eis aan die Duitse burger Antonia Joschko te betaal, sal nie die geld direk aan haar betaal nie.

Dit volg ná ’n ongeluk op 29 Desember 2014 op die C34-pad tussen Swakopmund en Hentiesbaai waarin haar ouers, Markus (48) en Stephanie (49), en haar 19-jarige suster Alexandra, dood is,

Joschko en Dippenaar is die enigste oorlewendes van ’n gru-ongeluk wat deur hom veroorsaak is en die lewens van ses mense geëis het.

In plaas daarvan sal die betaling deur die likwidateur, Ian McLaren van Bruni & McLaren, hanteer word, wat sy bates en laste sal bestuur.

Hofstukke toon dat Dippenaar reeds in Desember 2024 voorlopig bankrot verklaar is – vier maande nadat hy skuldig bevind is – nadat ’n skuldeiser ’n aansoek gebring het.

Die sekwestrasie is ingedien aangesien hy na bewering geld aan PZN Panelbeaters – die skuldeisers – verskuldig was wat hy nie kon betaal nie.

Die finale sekwestrasiebevel is in Februarie 2025 bevestig met sy laste wat sy bates met net meer as N$328 500 oorskry het.


SAAK SLOER

Weens die sekwestrasie moes enige siviele aksie teen Dippenaar na die likwidateur herlei word. 

Joschko het die siviele saak reeds in 2017 teen Dippenaar aanhangig gemaak. 

Toe die regsgeding aanvanklik vir verhoor in Maart 2025 op die rol geplaas is, was die likwidateur nog nie amptelik deur die meester van die hoërhof aangestel nie. Dít, asook die onttrekking van sy regsverteenwoordiger, Petri Theron van PD Theron & Associates, in Februarie 2025, het daartoe gelei dat die saak uitgestel is.

Joschko se prokureur, Jerome Gaya, het in Maart verlede jaar ’n beëdigde verklaring ingedien waarin hy die situasie uiteensit en versoek het dat die verhoordatums van die rol verwyder word totdat die likwidateur bevestig is, sodat die saak in ooreenstemming met die insolvensiewet kon voortgaan.

Waarnemende regter Natasha Bassingthwaighte het verlede week, toe sy die verstekvonnis in Joschko se guns toegestaan het, getuienis van Joschko, haar tante en ’n aktuariële deskundige oor finansiële verlies oorweeg.

Die toekenning sluit N$4,7 miljoen vir die verlies aan onderhoud in, asook sowat N$117 000 vir begrafniskoste en N$200 000 vir skadevergoeding wat met emosionele trauma verband hou.

Rente van 20% per jaar geld vanaf die datum van uitspraak tot volle betaling, en die koste van die regsgeding moet ook deur Dippenaar gedra word.

Die hof het aangedui dat die begrafniskoste volledig gedokumenteer is en dat die verlies aan onderhoud bereken is op die aanname dat Joschko sou voortgegaan het om ouerlike ondersteuning te ontvang totdat sy selfstandig sou wees.

Sekere bates, insluitend twee voertuie uit haar gesin se boedel, is as erfvoordele afgetrek.

Hoewel Joschko verslae van ’n psigoterapeut in Duitsland oor post-traumatiese stresversteuring ingedien het, kon dit nie toegelaat word nie omdat die deskundige nie geregistreer is om in Namibië te praktiseer nie.

Die hof het daarom die toekenning vir algemene skadevergoeding uitsluitlik gegrond op Joschko se onbetwiste getuienis oor haar voortgesette trauma, paniekaanvalle en probleme met skoolgaan en persoonlike verhoudings.

Benewens die Duitse burgers, het drie Namibiese passasiers, Dinah Pretorius, Charlene Schoombee en JC Horn, in die voertuig wat deur Dippenaar bestuur is, ook gesterf.

Hy is in Augustus 2024 in die Swakopmund-streekhof deur streeklanddros Gaynor Poulton skuldig bevind aan ses aanklagte van moord en roekelose bestuur.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-03-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer