• Tuisblad
  • Howe
  • Lichtenstrasser-verhoor: Staat sluit sy saak af
Ernst Lichtenstrasser staan tereg op die moord van die Namibiese Instituur vir Mynbou en Tegnologie (NIMT) se direkteur en adjunkdirekteur in 2019. Foto Iréne-Mari van der Walt
Ernst Lichtenstrasser staan tereg op die moord van die Namibiese Instituur vir Mynbou en Tegnologie (NIMT) se direkteur en adjunkdirekteur in 2019. Foto Iréne-Mari van der Walt

Lichtenstrasser-verhoor: Staat sluit sy saak af

Nimt-moordenaar ‘vertroud met gewere’
Ernst Lichtenstrasser se regsverteenwoordiger het alle beweringe ontken dat sy kliënt 'n geweer gesteel het.
Iréne-Mari van der Walt
Die staatsaanklaer Antonia Verhoef het gister die staat se saak in Ernst Lichtenstrasser se moordverhoor afgesluit.

Lichtenstrasser se regsverteenwoordiger, Albert Titus, het aan die hof gesê baie “konsultasie en strategiese beplanning moet nog plaasvind” voor die verdediging gereed sal wees om sy saak te stel.

Hy het verder gesê dat hoewel hulle die getranskribeerde weergawe van Lichtenstrasser se bekentenis het, het hulle nog nie kans gehad om na die video en klankopname van Lichtenstrasser se bekentenis te luister nie.

Die skulderkenning was op inspekteur Lodewyk van Graan se toestelle opgeneem en kopieë daarvan is Woensdag aan Titus oorhandig.

Volgens Titus sal ballistiese toetse aangevra en voltooi word voor die verhoor op 16 Januarie hervat.

Lichtenstrasser sal na verwagting die getuienisbank inneem met die begin van hulle saak.

POLISIEVERKLARING

Gedurende Woensdag se verrigtinge is dele van ’n polisieverklaring voorgelees wat uitgewys het dat die persoon verantwoordelik vir die moorde op die Namibiese Instituut vir Mynbou en Tegnologie (Nimt) se direkteure, Eckhart Mueller en Heimo Hellwig, ’n ervare skuts was.

Volgens dié verklaring wat deur sersant Matheo Mulauli saamgestel is, het die moordenaar van die sogenaamde “Mozambique drill”, ook bekend as die “failure to stop drill”, gebruik gemaak. Dié tegniek behels twee skote in ’n slagoffer se bolyf en een in die kop.

Getuienisse in verband met ’n klag van die onwettige besit van ’n vuurwapen waarop Lichtenstrasser teregstaan, is ook voor die hof gehoor.

‘GEWEERDIEFSTAL’

Die eienaar van ’n geweerwinkel op Grootfontein, Hendrik de Villiers (80), het Woensdag getuik dat hy ’n hegte vriendskap met Lichtenstrasser opgebou het, aangesien Lichtenstrasser “goeie kennis van vuurwapens het” en dat Lichtenstrasser hom gereeld by sy winkel besoek het.

Die staat het tydens die verhoor aangevoer dat Lichtenstrasser ’n geweer wat in 2016 aan De Villiers oorhandig is om vernietig te word, by De Villiers gesteel het.

De Villiers het in 2016 ’n brief aan die polisie geskryf waarin hy gesê het die vuurwapen kon nie herstel word nie en dat hy dit dus sou vernietig. Hy het getuig dat hy die vuurwapen se drie hoofkomponente uitmekaar gehaal het en dit by sy winkel gestoor het.

“Daar was speling tussen die geweerloop en die ontvangstoestel (receiver) van die geweer, dus sou dit gevaarlik wees om dit af te vuur ... die vuurwapen kon wel nog afvuur word,” het De Villiers voor regter Christie Liebenberg getuig.

Hy het verder getuig dat Lichtenstrasser tydens sy besoeke tussen 2016 en 2019 op verskeie geleenthede in die stoorkamer was waar De Villiers die geweeronderdele gestoor het.

De Villiers het aan die hof gesê dat hy nie weet hoe die geweer uit sy winkel verdwyn het nie, maar dat hy eers in 2019 besef het dit is weg toe polisiebeamptes oor die vuurwapne gevra het.

Hy het gesê hy het nie die geweer vernietig nie, want hy het gewag om tien vuurwapens bymekaar te maak om al die vuurwapens tegelykertyd te vernietig.

Die geweer is na bewering by ’n bokwagter – wat in Lichtenstrasser se diens was – gevind.

Titus het egter aangevoer dat daar geen rede is om te glo dat Lichtenstrasser die geweeronderdele by De Villiers gesteel het nie, gegewe dat dit nie in Lichtenstrasser se besit gevind is nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer