• Tuisblad
  • Howe
  • Laerskool Walvisbaai, onderwysministerie skik
Laerskool Walvisbaai - Foto Verskaf
Laerskool Walvisbaai - Foto Verskaf

Laerskool Walvisbaai, onderwysministerie skik

Annemarie du Toit
Na weke van spanning het Laerskool Walvisbaai en die ministerie van onderwys, vernuwing, jeug, sport, kuns en kultuur ’n tussentydse ooreenkoms bereik wat die skool se toekoms voorlopig verseker. Die ooreenkoms, wat op 31 Oktober 2025 deur die minister van onderwys, Sanet Steenkamp, en die skool se verteenwoordiger onderteken is, bring ’n tydelike einde aan ’n regstryd waarin ook die uitvoerende direkteur, Erongo se streekdirekteur en die direktoraat vir nasionale eksamens as respondente gelys is. Die dispuut het ontstaan toe die ministerie geëis het dat die skool vir herregistrasie aansoek doen, ’n stap wat volgens die skool sy regte ingevolge die Wet op Basiese Onderwys van 2020, geskend het. Die skool het die hof genader met die versoek dat die minister sy registrasie onmiddellik moet goedkeur en beweer dat ’n brief van 3 Oktober 2025 administratief onbillik was. Volgens hofdokumente het die skool oor jare staatsbefondsing en opvoedkundige bystand ontvang en steeds ’n betroubare diens aan leerlinge gelewer. Hulle het beswaar gemaak teen sekere herregistrasievereistes, insluitend die instelling van ’n formele skoolraad en die verwydering van toelatingsreëls, wat volgens hulle die skool se voortbestaan bedreig. Die ministerie het aangevoer die termyn van 24 maande vir herregistrasie het reeds verval en dat die skool nie aan artikel 83 van die wet voldoen het nie, aangesien geen volwaardige raad of voldoende finansiële bestuur ingestel is nie. Die brief van 3 Oktober, aldus Steenkamp, het bloot bestaande wetgewing toegepas. TUSSENTYDSE RAAD Tydens die statusverhoor voor hoërhofregter Orben Sibeya, is ooreengekom die skool sal teen 27 Januarie 2026 ’n tussentydse raad met twee bykomende lede aanstel wat tot 31 Maart 2026 sal dien. Volgens die skikkingsdokument moet die skool binne 90 dae sy geouditeerde finansiële state van 2019 tot 2025 indien. Sodra dit voltooi is, sal die minister die registrasie finaliseer en die sertifikaat teen 31 Maart 2026 uitreik. Staatsbefondsing vir onderwysers sal intussen voortduur tot 30 Januarie 2026, waarna moontlike herontplooiing sal volg, lui die dokument. Elke party sal hul eie koste dra en die inhoud van die ooreenkoms bly vertroulik. Die ooreenkoms poog om ’n balans tussen wetlike vereistes en praktiese bestuur te vind en beskerm die belange van leerlinge en personeel terwyl die herregistrasieproses afgehandel word. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-12-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer