• Tuisblad
  • Howe
  • Konstruksiemaatskappy dagvaar staat vir N$71 m. oor kwarantynprojekte
Foto ter illustrasie/argief
Foto ter illustrasie/argief

Konstruksiemaatskappy dagvaar staat vir N$71 m. oor kwarantynprojekte

Regering ontken enige oortreding, noem ooreenkoms ‘vrywillige jeuginisiatief’
Rita Kakelo
’n Konstruksiemaatskappy, Jesmike Youth Project CC, wat in die Noorde gebaseer is, het die regering na die hoërhof gesleep.

Die maatskappy eis meer as N$71 miljoen van die regering vir werk wat na bewering uitgevoer is vir die rehabilitasie van kwarantyngeriewe in die noordelike kommunale gebiede.

Naftal Angolo van die Jesmike Youth Project het die maatskappy verteenwoordig en beweer dat hulle in Januarie 2020 ’n gedeeltelik skriftelike en gedeeltelik mondelinge ooreenkoms met die destydse ministerie van landbou, water en grondhervorming aangegaan het om staatskwarantyngeriewe by Omutabo, Maowe, Okongo, Oshivelo, Mangetti en Katima Mulilo te rehabiliteer en te herstel.

Luidens die maatskappy se eisbesonderhede het die ooreenkoms vereis dat hulle heinings en waghuise herstel, waterpyplyne en krane installeer en onkruid by die geriewe verwyder.

Die ministerie se departement veeartsenykunde het na bewering die projek goedgekeur. Die departement moes glo die materiaal verskaf en toesig hou oor die implementering daarvan.

Die Jesmike Youth Project sê hy het sy pligte behoorlik onder toesig van staatsveeartse uitgevoer en is slegs gedeeltelik N$8,7 miljoen betaal.

Die maatskappy beweer die regering het versuim om materiaal te verskaf en het in gebreke gebly met die balans van N$71,4 miljoen, wat volgens hulle steeds verskuldig is vir voltooide werk en verwante uitgawes.



‘VRYWILLIGE JEUGINISIATIEF’

In sy pleitdokument wat in Junie vanjaar ingedien is, het die landbouministerie – verteenwoordig deur die kantoor van staatsadvokaat – ontken dat ’n bindende kontrak bestaan het en die reëling as ’n filantropiese en vrywillige inisiatief beskryf wat deur werklose jeugdiges gelei is.

Die regering voer aan die Jesmike Youth Project het homself aanvanklik in 2019 as ’n niewinsgewende organisasie voorgedoen wat die staat op ’n vrywillige basis wou bystaan en aangebied het om kwarantyngeriewe ‘teen geen koste’ in stand te hou terwyl hulle inkomste uit ontbossingsmateriaal en ander neweprodukte verdien.

Volgens die pleitdokumente het die ministerie later in Januarie 2020 ’n ooreenkomsbrief uitgereik, wat bloot reëls en toesigprosedures vir die jeuggroep se teenwoordigheid op staatspersele uiteengesit het – nie ’n formele dienskontrak nie.

Die ministerie het verder gesê dat beperkte tesouriegoedkeurings twee keer toegestaan is, in 2019 en 2021, ter waarde van ongeveer N$3,9 miljoen, as “’n blyk van waardering” vir die groep se bydraes en nie as kommersiële betalings nie.

Die regering hou vol Jesmike Youth Project se eis is ongegrond en onwettig en voer aan geen verkrygingsproses is gevolg soos deur die Wet op Openbare Verkryging van 2015 vereis word nie en dat enige ooreenkoms buite daardie raamwerk geen regskrag dra nie.

“Die eis is opportunisties van aard en poog om die verweerder se prosedurele kwesbaarhede uit te buit,” het die ministerie in hofstukke gesê.

Die ministerie het sedertdien die hof versoek om Jesmike Youth Project se regsgeding met koste van die hand te wys.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-12-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer