• Tuisblad
  • Howe
  • Job moet N$100 000 betaal vir 'boeliegedrag'

Job moet N$100 000 betaal vir 'boeliegedrag'

Hinda-Mbuende wen lastersaak
Die regter het beslis dat die adjunkminister van finansies se reputasie gehandhaaf moet word aangesien sy die belange van Namibiërs in die land asook in die buiteland dien.
Rita Kakelo
Die hofstryd tussen die adjunkminister van finansies, Maureen Hinda-Mbuende, en die leier van die Affirmative Repositioning (AR), Job Amupanda, het gister uiteindelik tot ’n einde gekom met Amupanda wat beveel is om N$100 000 aan haar te betaal.

Dit is gister in die hoërhof in Windhoek beslis dat Amupanda in 2021 lasterlike uitlatings oor Hinda-Mbuende op sosiale media gemaak het.

Regter Collins Parker het in sy uitspraak die erns van die saak beklemtoon en opgemerk dat beide partye hoë posisies beklee wat die saak noemenswaardig gemaak het.

Hy het beklemtoon dat Hinda-Mbuende se rol as adjunkminister interaksie met kollegas binne en buite Namibië vereis.

“Gegewe haar posisie, moet haar reputasie gehandhaaf word aangesien sy die belange van Namibiërs in die land asook in die buiteland dien.”

Hy het ook daarop gewys dat Amupanda se regsverteenwoordiger, Kadhila Amoomo, tydens kruisondervraging skynbaar voorgestel het dat die adjunkminister van finansies, synde ’n politikus en ’n adjunkminister, Amupanda se verklarings sonder klagte moes aanvaar het.

“Die bedrag skadevergoeding wat deur die hof vir laster toegeken word, moet individue daarvan weerhou om betrokke te raak by lasterlike gedrag,” het die regter verder in sy uitspraak gesê.



LASTER

Hinda-Mbuende het Amupanda hof toe gesleep op grond van ’n reeks plasings op sosiale media wat hy in 2021 gemaak het, wat volgens haar geïmpliseer het dat sy losbandig was en gemaak is met die doel om haar af te knou en te teister.

Een van die lasterlike plasings is in Julie 2021 op Amupanda se Facebookblad gemaak. Die plasing het ’n foto van ’n onbekende meisie in ’n denim, ’n wit hemp en sonbril ingesluit, met die byskrif: “Adjunkminister van finansies Maureen Hinda tydens die bevrydingsoorlog. Maureen was so ’n ‘WizWiz’. Dit is asof sy nie twee keer sal dink om ’n mes uit te haal nie.”

Hinda-Mbuende het ook in haar saak gesteun op ander mediaplasings wat volgens haar lasterlik was.



JOERNALIS GETUIG

Vitalio Angula is ’n joernalis wat tydens hofverrigtinge vir Hinda-Mbuende getuig het.

Hy het getuig oor sy berigte wat verband hou met Amupanda se plasings oor Hinda-Mbuende en Parker het in sy uitspraak gesê dat Angula sommige van Amupanda se sosialemediaplasings oordryf en verdraai het vir persoonlike gewin.

“Angula se berigte was gevul met wilde en ongegronde bewerings oor Amupanda se verklarings. Tydens kruisondervraging het Amupanda se prokureur voorgestel dat Hinda-Mbuende eerder Angula moes dagvaar in plaas van Amupanda.”

Ten spyte hiervan het Parker gesê hy respekteer Angula vir sy eerlikheid oor waarom hy gekies het om te getuig.

Hy het glo ingestem om te getuig net sodat hy dit kon ervaar, aangesien hy nog nooit voorheen by hofverrigtinge betrokke was nie.

“Ek hoop nie ons het hom in daardie opsig teleurgestel nie,” het Parker in sy uitspraak gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer