• Tuisblad
  • Howe
  • Intelligensiediens verloor versoek tot geheimhouding
Die direkteur-generaal van die NCIS, Bamba Nghipandua. Foto ARGIEF
Die direkteur-generaal van die NCIS, Bamba Nghipandua. Foto ARGIEF

Intelligensiediens verloor versoek tot geheimhouding

Hof wys aansoek met koste van die hand
Die omstredenheid draai om ’n brief wat deur ’n NCIS-amptenaar opgestel is, waarin verklaar word dat Fiina Ngweda Elago ’n ‘hangende saak by die vorige werkgewer’ gehad het.
Staff Reporter

Die hoërhof het ’n aansoek deur die Namibië Sentrale Intelligensiediens (NCIS) van die hand gewys om ’n lastergeding van N$1,8 miljoen agter geslote deure aan te hoor.

Die hof het beslis die agentskap het nie daarin geslaag om algehele geheimhouding te regverdig nie. Die hofgeding is deur die voormalige uitvoerende direkteur van onderwys, Fiina Ngwedha Elago, aanhangig gemaak.

Die saak spruit voort uit ’n betwiste proses vir sekuriteitskeuring wat uitgevoer is ná Elago teen die einde van 2023 aansoek vir die pos as adjunkdirekteur van protokol en konsulêre sake in die ministerie van internasionale betrekkinge en handel aansoek gedoen het.

Volgens hofstukke wentel die omstredenheid om ’n brief wat deur ’n NCIS-amptenaar geskryf is, waarin beweer word dat Elago ’n “hangende saak by die vorige werkgewer” gehad het – ’n bewering wat sy aanvoer vals en lasterlik was.

Elago voer aan dat sy reeds as die suksesvolle kandidaat vir die diplomatieke pos na vore gekom het voordat die keuringsproses onderneem is en dat die brief haar uiteindelik die aanstelling gekos het. 

Sy dagvaar die direkteur-generaal van die NCIS vir N$1,8 miljoen, insluitend beweerde verlore inkomste, reputasieskade en emosionele nood.

In sy aansoek by die hoërhof het die NCIS se direkteur-generaal, Bamba Nghipandua, aangevoer dat openbare verrigtinge vertroulike keuringsmetodes vir staatsekuriteit en sensitiewe persoonlike inligting kan onthul; en moontlik individue in gevaar kan stel wat by klaringsondersoeke betrokke is.

Adjunk-regter-president Shafimana Ueitele het egter op 19 Mei beslis die intelligensiehoof se argumente was spekulatief en het nie voldoende gronde getoon om die grondwetlike beginsel van oop regspleging te oorheers nie.

“Die direkteur-generaal het nie ’n saak vir algehele geheimhouding gestel nie,” het die regter beslis.

Ueitele het gesê howe moet ’n balans vind tussen die beskerming van regmatige nasionale sekuriteitsbelange en te voorkom dat staatsinstellings ’n beroep doen op geheimhouding om aanspreeklikheid te ontduik. 

Hy het verder opgemerk dat enige werklik sensitiewe inligting eerder deur nouer meganismes beskerm kan word, soos redigering, geanonimiseerde bewyse of beperkte in camera-verrigtinge, eerder as om die publiek en die media heeltemal uit te sluit. 

Die regter het ook gewaarsku dat die aanhoor van die saak in die geheim Elago onregverdig kan benadeel deur agterdog rondom die bewerings teen haar te skep.

Elago het die aansoek om geheimhouding teengestaan en aangevoer Namibië se Grondwet waarborg openbare verhore en dat die optrede van intelligensie-agentskappe onderhewig moet bly aan geregtelike toesig en openbare aanspreeklikheid. 

Die hof het NCIS se aansoek met koste van die hand gewys, wat beteken dat die intelligensie-agentskap Elago se regskoste met betrekking tot die mislukte poging tot geheimhouding moet betaal.

Die hooflastersaak sal na verwagting deur pleitstukke en bekendmaking voortgaan voor verdere saakbestuursverrigtinge in Junie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-08-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer