Inhegtenisneming op lughawe lei tot hofsaak
Dringende aansoek word teruggetrek
'n Man was minstens vyf dae in aanhouding nadat hy toegang tot Namibië geweier is en geweier het om die land te verlaat.
’n Inwoner van Mariental is twee weke gelede by die Internasionale Lughawe Hosea Kutako in hegtenis geneem weens die vermoede dat sy identiteitsdokumente vervals is.
Hy het op 28 Maart ’n dringende hofaansoek teen die minister van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit aanhangig gemaak. Die saak is wel teruggetrek voordat dit Vrydag in die hoërhof in Windhoek aangehoor kon word.
Ahmad Shoaib woon sedert 2018 in Namibië en het op 23 Maart teruggekeer ná ’n besoek aan Pakistan vir ’n familie-noodgeval. Hy is toegang geweier en owerhede het hom op 24 Maart in kennis gestel dat hy 48 uur het om die land te verlaat. Shoaib het geweier en hy is na die Seeis-polisiekantoor vervoer.
Hy het daarna die hoërhof in Windhoek op ’n dringende basis genader om ’n bevel te verkry vir die minister om hom vry te laat, om sy toegang in Namibië goed te keur en sy identiteitsdokument, paspoort en huweliksertifikaat aan hom terug te besorg.
Die dringende aansoek sou voor regter Orben Sibeya aangehoor word, maar Shoaib se regsverteenwoordigers het die hof in kennis gestel dat hy vrygelaat is en daarom nie meer die dringende aansoek sal bring nie. Hulle sal wel steeds voortgaan met ’n saak teen die minister, maar dit sal nie op ’n dringende basis gebring word nie.
AGTERGROND
Volgens Shoaib se verklaring het hy in Junie 2018 Namibië met ’n besoekerspermit binnegekom.
Hy het kort daarna ’n verhouding met ’n Namibiese vrou begin en hulle is in Oktober 2018 wettiglik getroud. Hulle is daarna weer geskei, maar in die tyd wat hulle saam was, het Shoaib glo sakegeleenthede in Namibië nagejaag en besluit om die land sy permanente woning te maak.
Voor hy Pakistan besoek het, het hy glo aansoek gedoen vir identiteitsdokumente by die ministerie en het dit op 18 November 2022 ontvang. Hy was byna ’n maand in Pakistan en met sy terugkeer na Namibië het die immigrasiebeampte glo sy paspoort gestempel, maar het die egtheid van sy identiteitsertifikaat bevraagteken.
“Ek het verduidelik die identiteitsertifikaat is die oorspronklike dokument en dat dit deur die ministerie uitgereik is. Ek is gevolglik ingelig my toegangspermit is gekanselleer en dat ek aangehou gaan word.”
Die immigrasiebeamptes het na bewering beslag op sy paspoort, identiteit- en huweliksertifikaat gelê.
“Hierdie aansoek is gebaseer op die feit dat ek in besit van ’n geldige identiteitsertifikaat is en dat my aanhouding onwettig en arbitrêr is. Ek is wettiglik geregtig om in Namibië te bly,” het Shoaib in sy verklaring ter ondersteuning van die dringende aansoek gesê.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie