‘Hulle is my vriende’
Tuyeimo Haufiku en Desmarius Hansen
Eerste minister Elijah Ngurare het die familie van die vermoorde aanklaer Justine Shiweda besoek en haar twee jong kinders van voortgesette steun verseker, terwyl die familie worstel met die verlies van hul ma, dogter en suster in een van Namibië se mees opspraakwekkende moordsake.
Tydens sy besoek Donderdag op Ondangwa by die huis van Shiweda se ma, Rosalia Kleopas-Mushimba, het Ngurare die kinders omhels en hulle liefdevol as sy vriende aangespreek.
“Hulle is my vriende,” het Ngurare in ’n emosionele oomblik gesê wat bedoel was om die kinders en hul ouma gerus te stel, wat sedert hul ma se dood na hulle omsien.
Ngurare het ook wyle Shiweda se susters geloof, omdat hulle hul treurende ma ondersteun en die verantwoordelikheid aanvaar om die vermoorde aanklaer se kinders groot te maak.
Volgens die kantoor van die eerste minister het Ngurare die stigting van ’n onderwysfonds deur vriende, familielede en barmhartige samaritane verwelkom om die kinders se onderrig te ondersteun.
Die fonds word privaat bestuur en is nie ’n regeringsinisiatief nie. Ngurare het gesê die inisiatief sal help om die kinders se toekoms te beveilig ná die verlies van hul ma.
Hy het die kinders verder aangemoedig om hard op skool te werk, hul drome na te jaag en daarna te streef om hul ma trots te maak.
Shiweda is op 7 Februarie 2026 oorlede nadat sy byna vier maande in ’n Windhoekse privaat hospitaal was nadat sy op 17 Oktober 2025 op Ondangwa geskiet en met suur gegooi is.
Haar dood het landswye skok ontketen en nuwe kommer laat opvlam oor die veiligheid van aanklaers en ander amptenare wat in die strafregstelsel werk.
Shiweda is aangeval toe gewapende mans na bewering op haar voertuig losgebrand het voordat hulle haar met suur gegooi het. Die aanklaer het ernstige beserings opgedoen en maande lank behandeling ontvang voordat sy aan haar kritieke beserings beswyk het.
Die moordondersoek het daarna gelei tot die inhegtenisneming van verskeie verdagtes, terwyl die Namibiese polisie voortgegaan het om na ander te soek wat na bewering met die beplanning en uitvoering van die aanval verbind word.
Onder die verdagtes wat in verband met die saak gearresteer is, is die voormalige polisieman en sakeman Abner Mateus, wat volgens die staat die beweerde meesterbrein agter Shiweda se dood is. Mateus het die aantygings teen hom ontken.
Die staat beweer Shiweda is geteiken weens haar werk as aanklaer en haar teenkanting teen borgtogaansoeke rakende verdagtes wat sy in strafsake vervolg het.
Die saak het ook wyd aandag getrek weens beweerde skakels tussen sommige van die beskuldigdes en ’n afsonderlike ondersoek na ’n versekeringsbedrogsaak van Sanlam Namibia van miljoene in die noorde van Namibië.
Polisieondersoeke na die moord het maande lank ná Shiweda se dood voortgeduur, met owerhede wat verdagtes agternagesit het wat glo verskillende rolle in die aanval gespeel het, insluitend die beweerde verkryging van voertuie en vuurwapens en die fasilitering van die ontsnapping van die betrokkenes.
Die jongste ontwikkeling in die saak het verlede week gekom toe die polisie vir Matatias Ndengu gearresteer het, die uitstaande verdagte wat na bewering sedert Oktober 2025 op die vlug was.
Oshana se hoof van misdaadondersoeke, adjunkkommissaris John Matongwe, het die inhegtenisneming van Ndengu bevestig,
Die polisie beweer verder dat Ndengu die vuurwapen wat in die skietery is, asook die suur wat in die aanval gebruik is, van Windhoek na die Noorde vervoer het. Hy word ook daarvan beskuldig dat hy tydens die aanval op die toneel teenwoordig was.
Ndengu word daarvan beskuldig dat hy die Volkswagen Polo bestuur het wat na bewering as wegkomvoertuig ná die aanval op Shiweda gebruik is.
Hy het Dinsdag in die landdroshof in Windhoek verskyn, waar hy borgtog geweier is. Sy saak sal na verwagting later vandeesmaand na die landdroshof op Ondangwa oorgeplaas word om by sy medebeskuldigde aan te sluit.
In ’n aparte ontwikkeling is ’n ander verdagte, Abner Kotokeni Samuel, in hegtenis geneem in verband met die uitgebreide Sanlam-bedrogondersoek.
Samuel het Donderdag in die landdroshof op Swakopmund verskyn en is ook borgtog geweier. Sy saak sal na verwagting ook na die landdroshof op Ondangwa oorgeplaas word om aanklagte wat verband hou met die beweerde bedrogsindikaat, in die gesig te staar.
Die inhegtenisneming kom terwyl die polisie voortgaan om hul ondersoek na die moord uit te brei, met verdere inhegtenisnemings, insluitend dié van polisiebeamptes, wat na bewering verwag word.
Shiweda se dood het die land geskok, met regeringsamptenare, regslui en lede van die publiek wat hulde gebring het aan haar werk as aanklaer. Sy is daarna met ’n amptelike gedenkdiens vereer voordat sy ter ruste gelê is. Ngurare se hoëprofiel-besoek aan die Shiweda-familie sedert haar dood volg terwyl die strafregtelike verrigtinge teen dié wat van betrokkenheid by haar dood beskuldig word, voor die howe voortduur.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie