Hoogste hof beslis (weer) in Heritage se guns
Die registrateur van mediese fondse in Namibië het weer ’n bloutjie geloop toe sy appèlaansoek in die hooggeregshof vir die likwidasie van Heritage Health van die hand gewys is.
Die registrateur het drie jaar gelede ook bloedneus in die hoërhof gekry toe sy aansoek ten gunste van Heritage Health met koste van die hand gewys is. Dit beëindig sewe jaar van litigasie wat Heritage Health se reputasie en vertroue in die mediese fonds beduidende skade berokken het.
In die jongste uitspraak wat op 2 April gelewer is en voor regters Petrus Damaseb, Hosea Angula en Dave Smuts gedien het, word duidelike opdragte in die bevel uitgestip oor hoe die fonds op sy herstelpad deur die registrateur ondersteun moet word.
Die registrateur word gelas om fondsvoorstelle vir bydraes en voordele ten opsigte van al sodanige jare vanaf 2019 te oorweeg, binne 30 dae nadat sodanige voorstelle deur die mediese fonds gemaak is.
Ook moet die registrateur die koste vir Heritage Health in ag neem met betrekking tot die verwydering van die selffinansieringsgaping. Aanpassings vir inflasie sedert die verwydering daarvan in 2019 moet toegelaat word, asook aanpassing vir verhogings wat reeds goedgekeur is.
Oorweging moet ook geskenk word aan die goedkeuring van sulke verdere of nuwe bykomende skemas om nuwe lede na die mediese fonds op grond van gesonde sakebeginsels te lok.
Die registrateur het die aansoek om likwidasie in Junie 2021 gebring omdat dit van mening was dat Heritage Health nie finansieel stabiel was nie en herhaaldelik geweier en of misluk het om sy wetlike riglyne te volg.
Heritage Health het ’n teenaansoek gebring dat die registrateur die fonds se voorgestelde 2022-’23-bydraes en voordele op meriete moet oorweeg.
Volgens regter Herman Oosthuizen se destydse uitspraak het die registrateur se “onredelike opdragte en besluite” op 26 Februarie en 25 April 2019 en die gevolglike “administratiewe boetes wat daarna opgelê is, sowel as die openbare kennisgewings wat uitgereik is” nadelige gevolge vir die fonds gehad wat probeer het om sake op gesonde sakebeginsels in ’n negatiewe finansiële situasie te bedryf.
Die uitspraak het voorts bevind die registrateur se regulering van die toekomstige bedrywighede van die fonds behoort gedoen te word met die doel om omstandighede te skep waarin die fonds die geleentheid gegun word om sy finansiële omgewing te verbeter.
Die kern van die geskille tussen die registrateur en die fonds was die verwydering van die selffinansieringsgaping sonder die goedkeuring van die nodige en redelike verhoging van bydraes wat ’n kettingreaksie op die fonds se daaropvolgende finansiële gesondheid gehad het.
Heritage Health se appèlaansoek teen die registrateur van mediese fondse en die Namibië Toesighoudende Owerheid vir Finansiële Instellings (Namfisa) wat fokus op die jaarlikse verhoging van premies en sy selffinansieringsgaping, was ook verlede jaar suksesvol.
Die jongste uitspraak, wat weer ten gunste van Heritage Health beslis is, volg op ’n hofgeding wat so ver terug as 2018 strek, nadat die registrateur Heritage Health se aansoek vir sy jaarlikse verhoging van premies vir 2019 afgekeur het.
Die kern van die saak was of die verhoging ’n wysiging van die fonds se reëls is en sodoende die goedkeuring van die registrateur vereis. In ’n vorige uitspraak in die hooggeregshof is die registrateur ook opdrag gegee om sy besluit oor die mediese fonds se selffinansieringsgaping te heroorweeg.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie