• Tuisblad
  • Howe
  • Hofsaak ’n ‘kwessie van nasionale veiligheid’
Die beskuldigde, Jona Hangula. Foto The Namibian
Die beskuldigde, Jona Hangula. Foto The Namibian

Hofsaak ’n ‘kwessie van nasionale veiligheid’

Man aangekla van hoogverraad, terrorisme
Dit is beslis dat die saak nie oop vir die publiek sal wees nie en in camera sal geskied.
Kristien Kruger
Dit is Dinsdag bekend gemaak dat die hofsaak waarin ’n man van Grootfontein van terrorisme en hoogverraad aangekla word, in camera aangehoor sal word aangesien die staat beweer dit is ’n kwessie van nasionale veiligheid.

Jona Hangula (31) se beweerde misdrywe is volgens die staat onder plaaslike owerhede se aandag gebring deur die Amerikaanse federale speurdiens, die FBI.

Volgens die klagstaat staan hy tereg op 18 aanklagte, wat insluit terrorisme, hoogverraad en verskeie oortredings van die immigrasiebeheerwet.

Hy is glo die eerste persoon in Namibië wat ingevolge die wet op die bekamping van terrorisme en die bevorderingsaktiwiteite daarvan aangekla is. Die wet het in Julie 2014 in werking getree.

Die staat voer aan dat Hangula mense gewerf het om hom te help met sy komplot om ’n staatsgreep in Namibië uit te voer.

VERRIGTINGE

Hangula het Dinsdag sy vierde hofverskyning gemaak.

Die staat het egter weer eens versoek dat die saak vir verdere ondersoek uitgestel word. Die aansoek is toegestaan en die saak is tot 27 Augustus uitgestel.

Volgens Hangula se regsverteenwoordiger, Wihan Brand, beplan hulle om vandeesmaand ’n borgtogaansoek te bring.

Volgens hom is Hangula reeds tien maande in aanhouding en is dit glo onreëlmatig om hom in aanhouding te hou terwyl die staat elke keer die saak vertraag omdat hulle ondersoek nog nie afgehandel is nie.

“My kliënt [Hangula] weet al die afgelope tien jaar dat die polisie hom ondersoek, maar hy het nog nooit probeer vlug nie,” het Brand bygevoeg.

Hangula is in Junie verlede jaar in hegtenis geneem.

Sedert die begin van die strafregtelike hofverrigtinge is die saak al deur drie staatsaanklaer se hande. Met die eerste verskyning was Rowan van Wyk die staatsaanklaer, hy is later vervang deur Bernadine Bertolini en Dinsdag was dit advokaat Lourens Campher wat namens die staat verskyn het.

Hangula word glo vanaf 2019 deur die Namibiese polisie ondersoek.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer