Photo Caption
Photo Caption

Hof staan borg aan ‘ontvoerders’ toe

Adam Hartman

Drie mans wat daarvan beskuldig word dat hulle twee minderjariges in Swakopmund se informele nedersetting DRC probeer ontvoer het, is gister in dié kusdorp se landdroshof op borgtog van N$10 000 elk vrygelaat. 

Die polisie het hulle as Leomaro Ramothibe (21), Leamaro Moller (23) en Lee Moller (27) geïdentifiseer.

Die landdros het gelas hulle moet hul reisdokumente inhandig en hulle mag nie vir nuwe dokumente aansoek doen nie. Hulle moet ook een keer per week by die Mondesa-polisiestasie aanmeld.

Die beskuldigdes mag nie met die ondersoek of met die slagoffers en getuies inmeng nie en mag nie by ’n soortgelyke oortreding betrokke wees nie. Indien hulle dié voorwaardes oortree, sal hulle weer in hegtenis geneem word. Die saak is tot 14 Desember uitgestel.

Die beweerde voorval het die afgelope Saterdagoggend plaasgevind. Volgens die ma van een van die seuns was haar seun (12) en haar nefie (13) op pad om vis te gaan koop toe ’n motor voor hulle stilgehou het. Mans wat swart gesigmaskers gedra het, het na bewering uitgespring.

Die 13-jarige kon daarin slaag om weg te hardloop. Die 12-jarige het ook weggehardloop, maar die mans het hom glo in die motor agternagesit.

Hy het oor ’n muur geklim en om hulp geroep. Een van die mans het na bewering sy foon by hom afgevat. Die seun het hom glo gebyt en die foon teruggegryp. ’n Man het hom te hulp gesnel. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer