• Tuisblad
  • Howe
  • Hof sê bedreigde voëls bly (vir nou) by N/a’ankusê

Hof sê bedreigde voëls bly (vir nou) by N/a’ankusê

Uitspraak geskeduleer vir Maart 2023
'n Pas uitgebroeide Kaapse aasvoël en agt ander voëls is vir die volgende vier maande in N/a'ankusê se sorg geplaas.
Kristien Kruger
Die hoërhof in Windhoek het Woensdag ’n tussentydse interdik uitgereik wat beveel dat nege bedreigde voëls van die Rare and Endangered Species Trust (Rest) na N/a’ankusê se wildreservaat verskuif mag word.

Dit sluit in ’n Kaapse aasvoëlbroeipaar en hul pas uitgebroeide kuiken, Phoenix, en ses ander wilde voëls wat mak gemaak is.

Die bevel kom ná die N/a’ankusê-stigting op 18 Julie vanjaar ’n dringende aansoek teen die minister van die omgewing, bosbou en toerisme gebring het om die sorg van die voëls by Rest oor te neem.

Rest het op 20 Oktober vanjaar toegemaak en wou die voëls aan N/a’ankusê skenk, maar die stigting kon na bewering nie die nodige permitte van die ministerie verkry om die voëls te vervoer en aan te hou nie.

Regter George Coleman het in Julie beslis dat die ministerie nie die agt bedreigde voëls en een eier by Rest se perseel in die omgewing van Otjiwarongo, mag verwyder nie.

Coleman het Woensdag ’n bevel uitgereik wat toestemming gee dat die agt voëls en baba-Phoenix na N/a’ankusê geskuif word en hulle in N/a’ankusê en Rest se sorg sal wees tot uitspraak in die saak gelewer word.

Die uitspraak is geskeduleer vir 9 Maart 2023.

“In die tussentyd en hangende Woensdag se verrigtinge, het Rest en N/a’ankusê toesig en versorging van die voëls gereël, maar dié reëling was bloot ’n tussentydse noodreëling en was nie volhoubaar nie. Die voëls sal nou na N/a’ankusê verskuif word waar hulle versorg sal word in ooreenstemming met internasionale beste praktyke,” het N/a’ankusê Woensdag in ’n mediaverklaring gesê.

‘NATUUR REGULEER HOMSELF’

Die ministerie het in sy geskrewe betoë beweer dat die skenking van die voëls deur Rest aan N/a’ankusê ongeldig en nietig was.

Ingevolge die bepalings van artikel 46 van die Natuurbewaringsordonnansie 4 van 1975 mag Rest na bewering nie die voëls skenk nie omdat hulle in die eerste plek nie die nodige permit het om die voëls aan te hou nie.

Die minister, mnr. Pohamba Shifeta, het in sy verklaring gesê dat hy nog nie ’n besluit geneem het oor die aansoeke wat N/a’ankusê ingedien het nie. Hy beweer verder dat die hof nie die mag het om die permitte uit te reik nie.

“Die natuur reguleer homself wanneer dit by siek of beseerde diere kom. Ek glo dit is waaroor die ‘sirkel van die lewe’ gaan. Beseerde of kreupel voëls dien geen opvoeding- of bewaringswaarde nie. Dit is ook so reeds in 2003 aan Rest verduidelik toe die aansoek om voëls aan te hou, oorweeg is,” het Shifeta in ’n verklaring gesê wat by die hoërhof in Windhoek ingedien is.

OORLEWING NOODSAAKLIK

Die Kaapse aasvoël is glo die mees bedreigde spesie in Namibië en Phoenix se ouers is tans die enigste broeipaar in aanhouding in die land.

“Phoenix se oorlewing is noodsaaklik vir die wêreldbewaring van hierdie spesie,” het N/a’ankusê gesê.

Die ander voëls sluit in Phoenix se ouers (Halle and Nesher), twee roofarende (Tom Tom en Acquila), ’n bateleurarend (Ollie), ’n Afrika-grootjagarend (Pirate), ’n reuseooruil (Big Boy) en ’n gevlekte ooruil (Poppy).

“Hierdie voëls is almal wilde diere wat spesiale sorg benodig en aanvanklik met beserings na Rest gebring is. Behalwe Phoenix, is al die voëls mak,” lui N/a’ankusê se mediaverklaring.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2022-12-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer