Mac Hengari. Foto Rita Kakelo
Mac Hengari. Foto Rita Kakelo

Hengari, broer uit op borgtog

Rita Kakelo
Die voormalige minister van landbou, visserye, water en grondhervorming het gisteraand vir die eerste keer in byna drie maande weer by die huis geslaap. Mac Hengari en sy 31-jarige medebeskuldigde is gister deur landdros Monica Andjaba borgtog van N$15 000 elk toegestaan ná ‘n borgtogverhoor van byna twee weke en wat laat in Julie begin het.

Die twee mans moet egter weer op 15 Augustus in die hof wees vir pleitdoeleindes en verhoor op aanklagte van dwarsboming van die gereg. Dit spruit uit bewerings dat Hengari en sy medebeskuldigde - die broer van die vrou wat Hengari van verkragting beskuldig het - haar na bewering omkoopgeld aangebied het om die verkragtingsklag teen hom terug te trek. Die broer het na bewering spesiaal uit Duitsland na Namibië gevlieg om hiermee te help.

In haar uitspraak het Andjaba gesê dat die hof die staat se bewering bevraagteken dat dit 'n prima facie-saak het, aangesien geen bewyse voor die hof bewys dat Hengari omkoopgeld betaal het nie.

Tydens die borgtogverhoor het Hengari getuig dat die groot bedrag geld waarmee hy gevind is, bedoel was vir plaasverpligtinge en om sy plaaswerkers te betaal, aangesien dit die tyd van die maand was om dit te doen.

Volgens Andjaba is die beweerde N$220 200 ook nie in die besit van die verkragtingslagoffer gevind nie, maar tussen Hengari se voete wat voor in die voertuig gesit het.

Speurder

In teenstelling met die getuienis van Hengari se medebeskuldigde – wat beweer het dat die polisie net die voormalige minister in wou hegtenis neem – het die ondersoekbeampte Vaino Werner op 24 Julie getuig dat albei mans die fokus van die ondersoek was. Hulle is ook albei in hegtenis geneem op grond van bewyse wat die mans by dieselfde beweerde misdaad betrek.

Werner het bewerings ontken dat hy die medebeskuldigde onder druk geplaas het om skuldig te pleit of toegeeflikheid beloof het in ruil daarvoor dat hy Hengari impliseer.

Die ondersoekbeampte het getuig dat die arrestasies volg het op 'n deeglike ondersoek wat bewyse ontbloot het wat daarop dui dat die twee mans N$220 000 op 26 April aan die beweerde verkragtingslagoffer aangebied het in ruil daarvoor dat sy die aanklag teen Hengari terugtrek.

Die twee mans staar gevolglik bykomende klagtes in die gesig dat hulle op ‘n korrupte wyse guns wou bewys en die onwettige terugtrek van 'n strafsaak wou uitlok of beïnvloed. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-08-08

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer