Die moordbeskuldigde, mnr. Inock Mazala Nalise. Foto Argief
Die moordbeskuldigde, mnr. Inock Mazala Nalise. Foto Argief

Hamermoord of mesaanval?

DNS op hamer was onbeslis
Die moordbeskuldigde het glo vir 'n konstabel gesê dat hy tydens 'n bakleiery sy vrou twee keer met 'n mes gesteek het.
Kristien Kruger
In die verhoor waar die staat beweer ’n man het sy vrou met ’n hamer doodgeslaan, het nuwe inligting gister aan die lig gekom wat voorstel dat die beskuldigde haar na bewering met ’n mes aangeval het.

Mnr. Inock Mazala Nalise (32) het drie dae nadat hy glo sy vrou, me. Njakwabo Pertah Munikonzo (30), in Okahandjapark vermoor het, homself aan die polisie oorgegee.

Hy het na bewering omstreeks vieruur die oggend by die Wanaheda-polisiekantoor opgedaag en vir die beampte aan diens gesê hy en sy vrou het baklei en hy het haar met ’n mes gesteek.

Volgens konstabel Mundia Mulisa – wat daardie oggend aan diens was – se getuienis het Nalise vir hom gesê: “My vrou het ’n mes opgetel en ek het dit by haar afgevat. Ek het haar in die bors en in die rug gesteek.”

Nalise het glo vir Mulisa vertel dat hy na die voorval in die bosse weggekruip het. Hy was glo deurmekaar en toe hy bygekom het, het hy homself oorgegee.

Volgens Mulisa se getuienis het hy Nalise in hegtenis geneem. Hy het ook bloedspatsels op sy baadjie opgemerk en dit as bewysstuk ingedien.

’n Brandweerman van die Windhoekse munisipaliteit het ook gister getuig. Mnr. Pertus Kahuadi was op die misdaadtoneel.

“Toe ons daar aankom, het die oorledene geen teken van lewe getoon nie. Haar lyk was styf en rigor mortis het reeds ingetree,” het hy getuig.

Hy het getuig die oorledene het in die plakkershut, reg langs die bed, op haar regtersy gelê.

DNS OP HAMER

Die hoof- forensiese wetenskaplike van die Nasionale Forensiese Wetenskap-instituut van Namibië (NFSI) het ook gister getuig dat DNS-toetse uitgevoer is op die bloed op die hamer wat op die moordtoneel gevind is.

Volgens die uitslae is daar ’n mengsel van drie bydraers op die hamer gevind. Een daarvan kon aan die oorledene gekoppel word. Die ander twee was onbeslis.

Hoewel die toetse nie direk aan Nalise se DNS gekoppel kon word nie, kon dit ook nie uitgesluit word nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer