Die voormalige Hai||om-inwoners van Etosha Nasionale Park. Foto verskaf
Die voormalige Hai||om-inwoners van Etosha Nasionale Park. Foto verskaf

Hai||om hof toe oor Etosha

Aurelia Afrikaner

Die Hai||om-vereniging het in ’n baanbrekersregsgeding teen die regering geëis vir die erkenning en herstel van hul voorvaderlike grondregte binne die Etosha Nasionale Park en die plase aangrensend aan Mangetti-Wes.

Die saak, ingedien onder saaknommer HC-MD-CIV-ACT-OTH-2025/04463, verteenwoordig ’n beduidende stap in die langdurige stryd van die Hai||om-gemeenskap om grond terug te eis wat hulle sê tydens die koloniale bewind van hulle ontneem is. 

Die Hai||om-vereniging, wat in 2024 gestig is, verteenwoordig die belange van die inheemse Hai||om-mense, die grootste San-groep in Namibië. Volgens die vereniging het die Hai||om-mense sedert onheuglike tye op hierdie voorvaderlike grond gewoon en het afhanklik daarvan geleef. 

Die grond was die kern van hul lewensonderhoud, kulturele gebruike en geestelike tradisies en het ’n integrale deel van hulle identiteit gevorm.

Hul onteiening het in die 1890’s tydens die Duitse koloniale era begin. In 1907 is groot dele van hulle voorvaderlike grond as wildreservaat nommer 2 sonder erkenning van hul regte verklaar. 

Die situasie het onder Suid-Afrikaanse regering vererger en tot die gewelddadige uitsetting van die Hai||om uit die park deur die apartheidsregering in 1954 gelei. 

Sedert hul uitsetting sê die gemeenskap dat hulle toegang tot grond, natuurlike hulpbronne en heilige kulturele plekke binne die park geweier is.

In ’n mediaverklaring wat Vrydag deur die Regshulpsentrum (LAC) uitgereik is, het die direkteur, Toni Hancox, gesê die Namibiese regering het sedert onafhanklikwording nie genoeg gedoen om die historiese onregte wat die Hai||om-mense gely het, aan te spreek nie. 

Die eisers vra die hof om hul voorvaderlike eienaarskap van die Etosha Nasionale Park en die die plase aangrensend aan Mangetti-Wes te erken. 

Alternatiewelik soek hulle ’n verklaring dat hulle onregmatig van die grond ontneem is. As deel van die regstappe vra die vereniging vir regverdige en billike reparasies, wat die herstel van hul regte op die grond, die toekenning van alternatiewe grond of finansiële vergoeding kan insluit.

Die Hai||om-vereniging hou vol dat die staat se optrede die Grondwet van Namibië, asook verskeie internasionale menseregte-raamwerke skend, insluitend die Verenigde Nasies se deklarasie oor die regte van inheemse bevolkings en die Afrika-handves oor mense- en bevolkingsregte.

Gemeenskapsleiers sê die regstappe gaan oor die herstel van waardigheid en om te verseker dat toekomstige geslagte hulle geskiedenis verstaan. Jan Tsumib, alombekend as die hoof van Etosha, het die kulturele betekenis van die grond beklemtoon. 

“Etosha beteken baie vir my, want dit is waar ons hulpbronne is. Ek het nie grootgeword met die naam Etosha nie. 

“As ’n jong seun het ek net die naam Xoms geken. Die naam Xoms het gekom van die geluid wat die sand maak wanneer jy loop: ‘Xom Xom’. Dit is die naam wat ek ken,” het hy gesê.

Bandu Komob het ook die geskiedkundige belang van die gebied vir die Hai||om benadruk.

“Etosha is ons Steentydperk-tuisgrond en ons wortels. Etosha is die Hai||om-storie en die Hai||om-vuur, so sonder Etosha is ons niks,” het hy gesê.

Johnny Aib het beklemtoon dat die regsgeding nie bedoel is as ’n konfrontasie met die staat nie, maar as ’n pad na erkenning. 

“Ons veg nie teen die regering nie. Ons wil net hê ons kinders en toekomstige geslagte moet leer dat dit is, en dit was, waar ons voorouers was,” het hy gesê.

[email protected]



Kommentaar

Republikein 2026-05-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer