• Tuisblad
  • Howe
  • Getuieverklarings ontoelaatbaar in groepverkragtingsaak
FOTO TER ILLUSTRASIE/ARGIEF
FOTO TER ILLUSTRASIE/ARGIEF

Getuieverklarings ontoelaatbaar in groepverkragtingsaak

Beskuldigdes is gewoontemisdadigers
Volgens die landdros het die polisie sommige van die verklarings “onder die dekmantel” van getuie-onderhoude verkry.
Rita Kakelo

Getuieverklarings wat verkry is van drie van die vier mans wat beskuldig word in ’n groepverkragtings- en gewapende roofsaak wat dateer uit 2018, is ontoelaatbaar in die hoofverhoor verklaar nadat die landdros bevind het dat die polisie sommige van die verklarings “onder die dekmantel” van getuie-onderhoude verkry het, ten spyte daarvan dat hulle die mans reeds as verdagtes behandel het.

Landdros Victor Nyazo het in die Windhoekse streekhof in Katutura die uitspraak verlede maand ná ’n verhoor-binne-’n-verhoor gemaak wat deur die staat aanhangig gemaak is in ’n poging om verskeie verklarings as bewysstukke toegelaat te kry voor die hoofverhoor, wat later vandeesmaand sal begin.

Die beskuldigdes – gewoonteoortreders Rion Ricky Geingob (39), die 29-jarige Sefrino Geingob, hul neef Golden Geingob (29), asook Moses Beukes (32) – staan ​​tereg op aanklagte van huisbraak met die doel om te roof en roof met verswarende omstandighede, verskeie aanklagte van verkragting, ontsnapping, die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie en motorvoertuigdiefstal.

Die aanklagte spruit uit bewerings dat die mans in Desember 2018 by die huis van ’n 21-jarige vrou in Windhoek ingebreek het, elektroniese items ter waarde van ongeveer N$28 100 gesteel het. Hulle het haar na bewering verkrag terwyl sy met ’n mes en vuurwapen gedreig is.

Staatsaanklaer Ellen Shipena beweer verder dat Rion, Beukes en Golden betrokke was by ’n aparte voorval van rooftog en motorvoertuigdiefstal in Katutura op 30 November 2018, waartydens elektroniese items ter waarde van ongeveer N$11 900 en ’n Volkswagen Polo van ’n vrou gesteel is.

Tydens die verrigtinge in November 2024 het die staat versoek dat ’n bekentenis en getuieverklaring deur Golden, ’n getuieverklaring deur Sefrino, en ’n Pol 17-waarskuwingsverklaring deur Beukes as bewys toegelaat word.

Rion is slegs in die aansoek aangehaal vir volledigheid en was nie direk betrokke by die toelaatbaarheidsverrigtinge nie.

Die aansoek is deur die beskuldigde se regsverteenwoordigers teengestaan. Sefrino word deur Cleopetra Boois verteenwoordig, Golden deur Milton Engelbrecht en Beukes deur regshulpprokureur Eva-Maria Nangolo.

Sefrino se verdediging het aangevoer dat sy verklaring verkry is terwyl hy na bewering as ’n staatsgetuie behandel is en dat hy nie ingelig is oor sy grondwetlike regte nie, insluitend die reg om nie homself te inkrimineer nie. 

Beukes het aangevoer dat die ondersoekbeampte, adjudant-offiser Joseph Sakaria, sy versoek om ’n verklaring in die teenwoordigheid van ’n prokureur af te lê, geïgnoreer het en eerder die inhoud van die verklaring aan hom toegeskryf het.

Golden het intussen beide sy bekentenis en getuieverklaring betwis en aangevoer dat sy bekentenis voor landdros Alweendo Venatius, nie vrylik en vrywillig afgelê is nie en dat sy getuieverklaring in Engels geneem is sonder om dit in sy huistaal terug te tolk.

Hofdokumente dui verder daarop dat Golden die polisie in Augustus 2020 genader het en ’n onbeïnvloede bekentenis wou maak in ’n poging om homself van die beskuldiging van verkragting te distansieer. Hy het en na bewering volgehou dat hy slegs by die rooftog betrokke was.

In sy uitspraak het Nyazo bevind dat Sakaria reeds vir Sefrino en Beukes as verdagtes beskou het toe hy “filtrering- en geloofwaardigheidsonderhoude” met hulle gevoer het.

“Dit is duidelik adjudant-offisier Sakaria het destyds verskeie informele onderhoude gevoer. . . Hy het goed geweet dat die tweede en vierde respondente verdagtes was in die strafsaak wat hy ondersoek het en tog het hy verklarings van hulle verkry onder die dekmantel dat sulke verklarings getuieverklarings was, wat bedrieglik was,” het die landdros bevind.

Nyazo het verder bevind dat die ondervragings nie opreg was nie en daarop gemik was om verklarings uit te lok wat die ondersoekbeampte se weergawe van die gebeure ondersteun het.

Die bekentenis wat deur Golden gegee is, is egter as bewys toegelaat.

Die drie beskuldigdes bly in aanhouding, met slegs Serfino wat op borgtog van N$4 000 vrygelaat is.

Serfino en Rion is ook bekend vir vorige veroordelings en het by verskeie geleenthede in 2019 uit polisie-aanhouding ontsnap.

[email protected]



Kommentaar

Republikein 2026-08-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer