Geen kredietwaarborg baan weg vir Namcor-Enercon-bedrog
'n Hoofondersoeker van die Teenkorrupsiekommissie (ACC) sê die voormalige finansiële uitvoerende hoof van Namcor Jennifer Hamukwaya het 'n formele vereiste vir ‘n kredietwaarborg gekanselleer wat die weg gebaan het vir Enercon om brandstof ter waarde van miljoene te ontvang. Oberty Inambao het gister in die landdroshof in Windhoek tydens die borgtogverrigtinge in die Namcor-Enercon-bedrogskandaal getuig.
Inambao het verduidelik dat die kredietwaarborg Namcor se veiligheidsnet was – 'n formele versekering wat die maatskappy teen finansiële verlies beskerm het indien Enercon nie sou betaal vir die brandstof wat op krediet verskaf is nie. Aanvanklik is hierdie waarborg op 19 November 2021 op N$5 miljoen vasgestel, maar is kort daarna deur Hamukwaya op 29 November 2021 gekanselleer.
Ná die kansellasie het Namcor op 16 Maart 2022 'n kredietlimiet van N$15 miljoen aan Enercon toegestaan, wat toegelaat het dat brandstof op krediet verskaf word - nie gebaseer op 'n formele waarborg nie - maar op regeringsbestellings vir aankope van die Namibiese weermag (NDF) as informele sekuriteit.
Volgens Inambao was dié praktyk hoogs onreëlmatig en het dit ernstige rooi vlae laat ontstaan.
“Die aanvaarding van bewyse van bestellings vir aankope van die regering vir sekuriteit het nie die formele ondersteuning van ‘n kredietwaarborg nie en bied weinig versekering sou Enercon versuim om sy betalingsverpligtinge na te kom,” het hy getuig.
Inambao het verder verduidelik dat so 'n afwyking van standaard kredietbeleide Namcor en by uitbreiding, openbare fondse, aan beduidende finansiële risiko kan blootstel. Sonder 'n formele waarborg word die maatskappy se vermoë om verliese in geval van wanbetaling te verhaal, ernstig in die gedrang gebring.
Krediet
Hamukwaya het Vrydag getuig kliënte ontvang gewoonlik 'n standaard limiet vir brandstofkrediet van N$15 miljoen, maar kan hoër bedrae aanvra. Laasgenoemde kan soms tot N$100 miljoen wees, afhangend van hul aansoek. Volgens haar was dié besluite soms subjektief en gebaseer op faktore soos die grootte van die kliënt of tenders wat toegeken is.
Hamukwaya het gesê sy was, nadat sy die dokumente nagegaan het, vol vertroue in die legitimiteit van die Namcor-Enercon-bate-ooreenkoms van N$53 miljoen. Sy het aan landdros Linus Samunzala gesê dat Namcor Trading se uitvoerende hoof Immanuel Mulunga die ooreenkoms onderteken het, wat haar gemoedsrus gegee het.
“Een klousule het bepaal dat N$35 miljoen van die N$53 miljoen aan Namcor betaal sou word, en 'n ander het vereis dat die bates nie belas word nie,” het sy gesê.
Beskuldigde
Leo Nandago, die negende beskuldigde in die saak, het intussen gesê hy is van voorneme om onskuldig te pleit indien die saak tot verhoor voortgaan. Dit is vervat in 'n beëdigde verklaring wat deur sy prokureur, Ileni Gebhardt, tydens sy borgtogverhoor voorgelees is.
Die staat beweer dat Nandago – toe 'n aandeelhouer in Erongo Petroleum CC – byna drie jaar gelede N$500 000 oorgeplaas het na Panduleni Farming CC, 'n maatskappy wat besit word deur Jennifer se man, Panduleni Hamukwaya. Die betaling is na bewering gemaak as 'n "dankie" vir haar goedkeuring van 'n brandstofvoorsieningskontrak van N$22 miljoen ten gunste van Erongo Petroleum CC.
In sy verklaring het Nandago bewerings betwis dat hy destyds die enigste aandeelhouer was, en gewys op dokumentasie wat toon dat daar ander gemagtigde ondertekenaars van Desember 2022 tot Mei 2023 was. Hoewel hy 'n 50%-lidmaatskap in Erongo Petroleum gehad het, hy volgens hom sy hele aandeelhouding in Februarie 2024 aan Austin Elindi oorgedra wat hom die enigste eienaar van die maatskappy maak.
Nandago beweer dat hy geen operasionele rol in die maatskappy gespeel het nie, en dat Elindi alle sakebedrywighede bestuur het onder 'n spesiale volmag wat deur die lede aan hom toegestaan is. Ten spyte hiervan sê Nandago net hy is in hegtenis geneem en aangekla is, wat nie die geval is vir ander wat by die maatskappy se sake betrokke was nie. - [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie