Moordbeskuldigde Erick !Kharugub(34), gister tydens sy eerste hofverskyninghet Dinsdag sy eerste verskyning in die Windhoek-landd Foto Rita Kakelo
Moordbeskuldigde Erick !Kharugub(34), gister tydens sy eerste hofverskyninghet Dinsdag sy eerste verskyning in die Windhoek-landd Foto Rita Kakelo

Geen borgtog vir ‘kindermoordenaar’

Rita Kakelo

Die 34-jarige man wat daarvan beskuldig word dat hy sy vriendin se vierjarige kleinseun doodgemaak het, het gister sy eerste verskyning in die Windhoekse landdroshof gemaak. 

Erick Moses !Kharugub het in die hof verskyn op aanklagte van moord en aanranding met die opset om ernstig te beseer, gelees saam met die bepalings van die wet op huishoudelike geweld. 

Hy het ontspanne by die hof voorgekom en het selfs vir die kameras geglimlag. Daar was geen familielede van hom of die slagoffers van nóg ’n geval van geslagsgebaseerde geweld by die hof teenwoordig nie. Geen protesoptog vir nóg ’n kind wat dood is nie.

Die aanklagte spruit uit ’n voorval wat Saterdagaand in die Prosperita-woonbuurt in die hoofstad plaasgevind het. Volgens die polisie het die voorval omstreeks 21:00 plaasgevind tydens ’n fisieke onderonsie tussen die beskuldigde en sy lewensmaat, die 45-jarige Maria Pienaar. 

Na bewering het !Kharugub tydens die voorval in ’n vlaag van woede, Maria se kleinseun, Romeo Pienaar, se kop herhaaldelik teen die grond geslaan het. Romeo was onder Maria se voogdyskap. Die seuntjie het noodlottige beserings opgedoen en is deur paramedici op die toneel dood verklaar. 

Hofstukke dui verder aan dat die beskuldigde na bewering die seuntjie aan sy bene gegryp en sy kop herhaaldelik teen die grond geslaan het. 

!Kharugub word ook daarvan beskuldig dat hy op dieselfde dag vir Maria aangerand en gedreig het om haar hart uit te sny. 

Tydens sy vlugtige hofverskyning het !Kharugub  die hof meegedeel dat hy van voorneme is om homself te verdedig en bevestig dat hy nie om borgtog gaan aansoek doen nie. 

Staatsaanklaer Reinholdt Kamatoto het aangedui dat die polsieondersoek nog in ’n vroeë stadium is met foto’s, verklarings van getuies en kringtelevisiebeeldmateriaal wat nog uitstaande is. 

Die saak is deur landdros Immanuel Udjombala tot 10 Junie vir verdere polisieondersoek uitgestel. 

!Kharugub bly in aanhouding. 

Maria het tydens ’n onderhoud met NBC gesê sy het vasgevang in ’n gewelddadige verhouding gevoel waaruit sy nie kon ontsnap nie. Sy het die beskuldigde slegs ses maande gelede in Windhoek ontmoet. 

Oor wat tydens die tragiese voorval Saterdag gebeur het, het die ouma gesê “hy het hom opgetel soos ’n sak sement en hom teen die grond geslaan. Daar was niemand in die omtrek nie; niemand kon my hoor skree nie”.

Maria het Romeo as ’n vrolike en liefdevolle kind beskryf.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer