FOTO ARGIEF
FOTO ARGIEF

Geen borg vir Nust-administrateur

Rita Kakelo

’n Administrateur by die Namibië Universiteit vir Wetenskap en Tegnologie (NUST), Maria Hengari (41), het Donderdag haar eerste verskyning in die Windhoekse landdroshof gemaak ná haar inhegtenisneming in verband met ’n beweerde bedrogskema van N$2,6 miljoen.

Hengari staar aanklagte van bedrog en die oortreding van die wet op die voorkoming van georganiseerde misdaad (Poca) in die gesig, wat verband hou met die beweerde verkryging, besit en gebruik van opbrengste uit onwettige bedrywighede.

Volgens die klagstaat spruit die bewerings uit voorvalle wat tussen 2021 en 2024 in Windhoek plaasgevind het. Na bewering het Hengari onregmatig en met die opset om bedrog te pleeg aan Nust en sy beursbeamptes voorgegee dat betalings van ongeveer N$2,6 miljoen deur sowat 130 studente gemaak is.

Nust het na bewering verliese van meer as N$2,6 miljoen gely.

Staatsaanklaer deur Reinhard Kamatoto beweer Hengari het in haar hoedanigheid as administrateur met toegang tot die universiteit se finansiële stelsel, betalings op studenterekeninge verwerk om te laat blyk dat hul uitstaande klasgeld vereffen is.

Die geld is egter na bewering nie aan die universiteit oorbetaal nie. In plaas daarvan word beweer dat studente hul betalings direk in Hengari se persoonlike bankrekening en e-wallet gemaak het in ruil daarvoor dat hul skuld op die stelsel verwyder word.

Hengari het die hof meegedeel dat sy van voorneme is om vir regshulp aansoek te doen.

Die staat staan borgtog teen met verwysing na die erns van die oortreding, die sterk saak teen haar en die risiko van inmenging met ondersoeke wat nog in ’n vroeë stadium is. Die staatsaanklaer het verder aangevoer dat die toestaan van borgtog nie in die belang van die regspleging sou wees nie.

Hengari bly in aanhouding. Landdros Immanuel Udjombala het die saak tot 3 Junie uitgestel.

[email protected]


Kommentaar

Republikein 2026-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer