Fishrot-verhoor kan begin
Nuusredaksie – Die weg is uiteindelik gebaan vir die langverwagte Fishrot-verhoor om voort te gaan, byna sewe jaar nadat dié visbom gebars en verskeie hooggeplaastes betrek het. Dit volg nadat die voormalige minister van justisie, Sacky Shanghala, en sy medebeskuldigde James Hatuikulipi, misluk het in hul poging om die voorsittende regter te kry om haarself aan die saak te laat onttrek.
In haar uitspraak gister het waarnemende hoërhofregter Marilize du Plessis argumente verwerp dat die hof bevooroordeeld was teen die beskuldigdes in die saak.
Shanghala en Hatuikulipi staan saam met verskeie ander beskuldigdes, insluitend die voormalige minister van visserye, Bernhardt Esau, tereg op meer as 40 aanklagte. Die aanklagte wissel van korrupsie en bedrog tot oortredings van die wet op die voorkoming van georganiseerde misdaad asook die teenkorrupsiewet.
Die duo het aangevoer dat die waarnemende regter vooroordeel getoon het deur vroeëre uitsprake. Dit sluit volgens hulle opmerkings in wat daarop dui dat sommige beskuldigdes in die Fishrot-verhoor vertragingstaktieke gebruik het. Hulle het ook aangevoer dat die partye wat deel van die verhoor is na bewering ongelyk tydens hofverrigtinge behandel word.
Shanghala en Hatuikulipi het in hul aansoek verder beweer vorige aansoeke is verkeerd geïnterpreteer, Du Plessis het kwessies reeds beoordeel wat moontlik tydens die verhoor kan voorkom en het haar relatiewe onervarenheid as grondslag vir haar onttrekking aan die verhoor aangehaal.
In haar uitspraak het Du Plessis egter al dié redes van die hand gewys en beklemtoon dat bewerings van vooroordeel aan die streng toets van “redelike vrees” moet voldoen.
“Die feite waarop ’n redelike persoon ’n redelike vrees vir vooroordeel koester, moet die korrekte en bewese feite wees,” het die regter beslis.
Die hof het bevind baie van die klagtes was gebaseer op verkeerde interpretasies van verrigtinge of ontevredenheid met vorige uitsprake wat nie op vooroordeel dui nie.
VERTRAGING
In reaksie op kritiek oor opmerkings oor vertragings, het Du Plessis gesê die waarnemings was feitelik eerder as bevooroordeeld.
Die saak, wat sedert 2021 op die hoërhofrol is, moet nog grootliks weens talle tussentydse aansoeke en verwante siviele verrigtinge sy eerste getuie aanhoor.
“Die bevinding dat die aanvang van hierdie saak vertraag is, is ’n feit, nie ’n waarde-oordeel nie,” het die regter in haar uitspraak gesê.
Du Plessis het beklemtoon howe is verplig om verrigtinge doeltreffend te bestuur en nie onbepaalde uitstel kan toestaan sonder onweerlegbare regverdiging nie.
Die hof het ook bewerings verwerp dat hy verskillende standaarde op die staat en verdediging toegepas het en dat alle partye geleenthede gegee is om argumente aan te bied.
Die regter het ook geen bewyse gevind dat die staat onregverdig bevoordeel is of dat die beskuldigdes prosedurele regte ontsê is nie.
BEVEL
Die aansoek om onttrekking is in sy geheel van die hand gewys, tesame met ’n versoek om die verhoor onbepaald uit te stel hangende die toewysing van die saak aan ’n ander regter.
Die uitspraak verwyder ’n beduidende struikelblok in een van Namibië se mees komplekse en omstrede korrupsiesake wat verskeie beskuldigdes en entiteite, sowel as honderde moontlike getuies betrek.
Met die aansoek dat Du Plessis haar aan die verhoor onttrek wat nou van die hand gewys is, word daar van die hof verwag om met verhoorvoorbereidings voort te gaan.
FISHROT
Die Fishrot-bom het in November 2019 gebars na die uitlek van meer as 30 000 dokumente – algemeen bekend as die Fishrot-lêers – wat beweerde korrupsie in Namibië se winsgewende visbedryf onthul het.
In die middel van die bewerings is die Yslandse visreus Samherji,wat daarvan beskuldig word dat hy miljoene dollars in omkoopgeld aan senior Namibiese politici en amptenare betaal het in ruil vir voorkeurtoegang tot visvangkwotas.
Die skandaal het gelei tot die bedanking en daaropvolgende inhegtenisneming van hooggeplaaste amptenare, insluitend voormalige ministers Esau en Shanghala wat uit die kabinet bedank het.
Aanklaers beweer dat diegene wat geïmpliseer is, ten minste N$250 miljoen in omkoopgeld ontvang het wat deur komplekse netwerke van maatskappye en trusts gekanaliseer is, in wat beskryf word as een van die grootste korrupsiesake in die land se geskiedenis.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie