Eis van mediese nalatigheid verjaar
’n Windhoekse ouerpaar betwis ’n uitspraak in die hoërhof waarin hul eis van N$500 000s weens mediese nalatigheid teen die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste op ’n tegniese punt van die hand gewys is.
Die ouerpaar se geding voer aan dat nalatigheid deur personeel van Katurua-staatshospitaal hul dogter, gebore in Junie 2021, met ’n permanente breinbesering gelaat het.
Die saak is verlede maand van die rol geskrap nadat regter Lotta Ambunda die gesondheidsministerie se spesiale pleit van verjaring gehandhaaf het, met die bevinding dat die eis buite die wetlik voorgeskrewe tydperk van drie jaar ingedien is.
Die egpaar, albei studente, het hul eis op 8 Julie 2024 ingedien, weke nadat die sperdatum reeds verstryk het. In die middelpunt van die geskil is hul dogter, wat nou byna vyf jaar oud is.
Kort ná haar geboorte is sy met ’n permanente breinbesering gediagnoseer wat deur suurstoftekort tydens geboorte veroorsaak is.
In haar uitspraak het Ambunda gesê sy vind dit moeilik om te begryp hoe die behandeling van die kind se toestand as ’n erkenning van nalatigheid kan geld.
“So ’n argument kan nooit water dra nie,” het sy beslis.
Die ouerpaar sê hulle het ’n kennisgewing van appèl ingedien om die uitspraak omver te werp. Hulle voer aan die hof het buitensporige fokus op regstegniese faktore geplaas, eerder as op die meriete van hul saak en dat dit op ’n “bespotting van geregtigheid” neerkom.
In hul appèl beweer die ouers dat die hoërhof van die fokus van kernkwessie van beweerde nalatigheid weggedewaal het deur op die verjaring te fokus en dat die hof versuim het om bewyse oor die omstandighede van die geboorte behoorlik in ag te neem.
’n Spesiale pleit van verjaring is ’n voorlopige verweer wat aanvoer dat ’n eis weens laat indiening regsongegrond is, ongeag die inhoud daarvan. Die ouers beweer dat ’n dokter se aanbeveling vir ’n keisersnee weens die natuurlike kraamproses wat gestop het, geïgnoreer is.
Dit het glo tot ’n uitgerekte bevalling en suurstoftekort gelei, wat dus duidelike nalatigheid behels.
Hulle voer verder aan dat die moeder in ’n kritieke stadium van kraam in die steek gelaat is en aan die sorg van studentverpleegkundiges oorgelaat is, sonder toesig deur ’n gekwalifiseerde dokter of geregistreerde verpleegkundige.
DAAGLIKSE STRYD
Benewens die regsargumente skets die appèl ’n hartseer prentjie van die gesin se lewensomstandighede en daaglikse stryd. Die kind ly na bewering aan agterstande in ontwikkeling, epilepsie, blindheid en kan nie onafhanklik te beweeg of eet nie.
“My dogter vereis my volle aandag. Dit is uiters traumaties,” verklaar die ma in hofstukke.
Die ouers, wat op ongeskiktheidstoelae en onreëlmatige inkomste staatmaak, sê hulle kan nie aan die kind se omvangryke mediese en versorgingsbehoeftes voldoen nie.
Hulle vra die hooggeregshof om die uitspraak in die hoërhof tersyde te stel, die meriete van die saak te oorweeg en die optrede van die mediese personeel as nalatig te verklaar.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie