Dippenaar verlof tot appèl geweier
Die hooggeregshof het Jandré Dippenaar se aansoek om verlof tot appèl teen sy skuldigbevindings aan moord en sy gevolglike tronkstraf van 15 jaar van die hand gewys.
Die vonnis het gevolg op ’n noodlottige botsing naby Hentiesbaai in 2014, waarin ses mense gesterf het.
Adjunkhoofregter Petrus Damaseb en waarnemende appèlregters Dave Smuts en Theo Frank het die aansoek op 23 September in kamers van die hand gewys.
“Die aansoek om verlof tot appèl teen die skuldigbevindings en vonnisse word van die hand gewys,” lui die uitspraak.
Dié aansoek het gevolg op ’n uitspraak van die hoërhof op 5 Junie, waarin regters Naomi Shivute en Boas Usiku kondonasie aan Dippenaar geweier het vir die laat indiening van sy aansoek om verlof tot appèl en die aansoek van die hand gewys het.
“Nadat ons die aansoek deeglik en objektief oorweeg het, het ons geen redelike twyfel dat die aansoeker tereg skuldig bevind is aan die aanklagte wat teen hom gebring is nie,” het Shivute gesê, met Usiku wat daarmee saamgestem het.
Die aansoek is op 31 Desember 2025 ingedien, buite die tydperk van 14 dae, soos deur die strafproseswet bepaal word. Die staat het aangevoer dit was 12 dae laat. Die hof het nie die verduideliking vir die vertraging aanvaar nie, maar het beslis Dippenaar behoort nie daarvoor gestraf te word nie en toegelaat dat die meriete van die saak geargumenteer word.
Hy het 56 gronde vir appèl in ’n dokument van 38 bladsye aangevoer. Hy het onder meer betoog dat die bestuurder van die Ford Ranger die botsing veroorsaak het deur in sy baan in te swaai en dat die hof te min gewig geheg het aan die getuienis van deskundiges vir die verdediging.
“Ons is oortuig daarvan dat die getuienis wat deur die respondent voorgelê is, bo redelike twyfel bewys dat die applikant die enigste oorsaak van die ongeluk was”, het die regters bevind.
Dieselfde regters het sy appèl teen die skuldigbevindings en vonnis op 5 Desember 2025 van die hand gewys.
In daardie uitspraak het hulle die verhoorhof se bevinding gehandhaaf dat Dippenaar op die dag van die botsing roekeloos tussen Walvisbaai en Swakopmund bestuur het.
’n Polisiebeampte het hom na aanleiding van ’n klagte voorgekeer en hom gewaarsku om nie roekeloos te bestuur nie.
“Die getuienis toon dat die manier waarop hy daardie dag bestuur het, ander padgebruikers in so ’n mate verontrus het dat hulle verplig gevoel het om hom by die polisie aan te meld.
“Selfs nadat hy gewaarsku is om verantwoordelik te bestuur, het die appellant nie daarmee opgehou nie,” lui die uitspraak.
Die regters het gesê dat, aangesien Dippenaar ’n kampioen-tydrenjaer was wat ’n voertuig op ’n blindekol op ’n bult verbygesteek het terwyl ’n voertuig van voor gekom het, “die moontlike gevolg van die dood vir hom duidelik moes gewees het”.
“Hy het die gevolge van sy gevaarlike bestuur voorsien, dit in berekening gebring en nietemin voortgegaan,” het hulle bevind.
Die hof het ook oorweeg of Dippenaar die moontlikheid van sy eie dood aanvaar het.
“Hoewel daar geen bewyse is dat hy tot selfdood geneig was nie, kan daar geen twyfel wees nie dat hy – gegewe die gevaarlike manier waarop hy daardie dag bestuur het en die feit dat die polisie hom oor sy gevaarlike bestuur gewaarsku het, wat skadelik vir homself en ander padgebruikers kon wees – onverskillig moes gewees het oor of hy sou lewe of sterf,” lui die uitspraak.
Streeklanddros Gaynor Poulton het Dippenaar in die Swakopmundse streekhof skuldig bevind aan ses aanklagte van moord met dolus eventualis (voorwaardelike opset).
Sy het hom effektief tot 15 jaar tronkstraf gevonnis vir die moordaanklagte. Sy het hom ook ’n boete van N8 000 of twee jaar tronkstraf opgelê vir roekelose bestuur en N$2 000 of drie maande tronkstraf vir bestuur sonder ’n rybewys.
Die verhoorhof het bevind Dippenaar het op 29 Desember 2014 voertuie teen ’n hoë spoed op ’n blindekol op ’n bult naby Hentiesbaai verbygesteek, wat tot ’n kop-aan-kop-botsing gelei het.
Dippenaar was die bestuurder van ’n FJ Cruiser met drie ander insittendes Dinah Pretorius, Charlene Schoombee en JC Horn wat trompop met ’n Ford Ranger gebots het. In die Ford was die Duitse toeriste Markus Joschko, sy vrou, Stephanie, en hul dogters, Alexandra en Antonia (toe 16 jaar oud). Dippenaar was die enigste oorlewende in die FJ Cruiser en Antonia in die Ford Ranger.
In die hooggeregshof het Albert Strydom, in opdrag van PD Theron & Associates, vir Dippenaar verteenwoordig. Ethel Ndlovu het namens die staat verskyn. – [email protected]


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie