• Tuisblad
  • Howe
  • Delia se 'moordenaar' probeer vandag vir borgtog

Delia se 'moordenaar' probeer vandag vir borgtog

Iréne-Mari van der Walt
Die vermeende moordenaar Wentzel Maasdorp sal na verwagting vandag in dieselfde hof ’n formele aansoek om borgtog bring waar dit vroeër afgekeur is. Maasdorp word aangekla van die moord op sy meisie Delia Weimers-Maasdorp in April verlede jaar in Klein Windhoek.

Die klag van moord word saamgelees met die bepalings van die wet op gesinsgeweld. Maasdorp staar ook twee klagte van diefstal in die gesig, nadat hy na bewering ook Weimers-Maasdorp se motor, selfoon en televisie gesteel het.

Laasgenoemde items het die polisie weer teruggevind, nadat dit glo deur Maasdorp verkoop is. Hy is na bewering deur forensiese ontleding aan haar moord verbind.

'BITTER HARTSEER'

Weimers-Maasdorp se dood is deur vriende en kollegas beskryf as “bitter hartseer”, “absoluut verwoestend” en die “seerste nuus ooit”. Sy is herhaaldelik beskryf as ‘n “stunning mens” wat ‘n impak gemaak het op almal wat sy ken.

Weimers-Maasdorp se liggaam wat toegedraai en vasgebind was, is in ‘n woonstel in Klein-Windhoek gevind. Volgens die polisie is sy deur vriende ontdek.

GLO OP DIE VLUG

Maasdorp het na bewering ná die moord op die vlug geslaan en is in die vroeë oggendure in Rundu opgemerk waar hy na bewering Weimers-Maasdorp se silwer BMW gelos het.

Volgens adj. komm. Bonifatius Kanyetu, koördineerder van misdaadondersoeke in Kavango-Oos, is die polisie deur individue in kennis gestel dat hulle Maasdorp, die neef van Weimers se eksman, gesien het waar hy die voertuig by die Wimpy by 'n diensstasie op Rundu parkeer het.

Maasdorp is volgens bronne voor dit gesien waar hy die voertuig bestuur het. Hy het na bewering ‘n terugslag in sy dwelmverslawing gehad en is glo ook by sy handelaar se huis gesien.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-08-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer