De Klerk by beweerde boedelbedrog betrek

N$3,8 miljoen glo onwettig onttrek
Die voortvlugtende Fishrot-prokureur en sy agent het na bewering geld onder die voorwendsel van eksekuteursfooie na private rekeninge oorgeplaas.
Rita Kakelo
Die boedeladministrateur Martha Dobberstein, wat onlangs in die hof verskyn het omdat sy glo N$500 000 uit ’n persoon se boedel wanbestee het, word saam met die voortvlugtende Fishrot-prokureur, Marén de Klerk, daarvan beskuldig dat hulle N$3,8 miljoen uit die boedel van die wyle voormalige Windhoek-burgemeester, Matthew Shikongo, in hul sakke gedruk het.

Shikongo is op 13 Mei 2021 aan Covid-19-verwante oorsake dood. Die regsfirma S. Newaka & Co. Inc het in ’n formele brief wat by die Namibiese polisie se eenheid vir handelsmisdaad ingedien is, De Klerk wat aanvanklik as eksekuteur van die boedel gedien het en Dobberstein wat as sy agent aangewys is, daarvan beskuldig dat hulle onwettig N$3,8 miljoen uit Shikongo se boedel onttrek het.

Die geld is glo na private rekeninge oorgeplaas onder die voorwendsel van eksekuteursfooie, ’n stap wat volgens die nuwe administrateurs voortydig en onwettig was.

Volgens die huidige eksekuteur Katrina Shikongo en haar regsverteenwoordigers mag sulke fooie net geëis word sodra die boedel afgehandel is en die meester van die hoërhof ’n brief uitreik wat stipuleer dat daar geen besware is nie. Dié proses is na bewering nooit voltooi nie.

“Die boedel is nooit afgehandel nie en geen sodanige brief is uitgereik nie,” lui die brief gedateer 27 Maart, en voeg by dat dit die oordrag van geld “onwettig en onregmatig” maak. Die polisie ondersoek tans die saak.

De Klerk het na Suid-Afrika gevlug toe hoëprofiel-arrestasies, wat verband hou met die Fishrot-sage, waarby omkoopgeld van N$300 miljoen betrokke was ’n hoogtepunt bereik het. Aanklaers voer aan dat De Klerk ’n aktiewe rol in die Fishrot-omkoopskandaal gespeel het.

Shikongo was die eerste swart verkose burgemeester van Windhoek en is in 1993 tot dié amp verkies. In 2000 is hy herkies en het die pos tot 2010 beklee, wat hom die langsdienende burgemeester in die hoofstad se geskiedenis maak.



DOBBERSTEIN SE ANDER REGSPROBLEME

Dobberstein het in Maart in die hof verskyn nadat sy na bewering N$500 000 uit die boedel van wyle

Norman Marais na haar persoonlike rekening oorgeplaas het.

Die 77-jarige, wat in Maart vir die eerste keer in die landdroshof in Windhoek verskyn het, sal na verwagting môre pleit op aanklagte onder die wet vir die voorkoming van georganiseerde misdaad (Poca). Buiten dié aanklag staar sy ook aanklagte van bedrog en alternatiewelik diefstal in die gesig. Sy is tans uit op borgtog van N$10 000.

Marais se weduwee, Karen Marais, het ’n strafregtelike saak teen Dobberstein aanhangig gemaak nadat sy in Oktober 2024 ontdek het Dobberstein het na bewering N$534 000 in 13 transaksies oor ses maande onttrek.

In haar beëdigde verklaring sê Marais haar akteprokureur het Dobberstein in Maart 2024 oor ’n eiendomsoordrag gekontak, maar dat sy ten spyte van verskeie pogings nie gereageer het nie.

“Na my wete het sy nooit die geld iewers belê nie. Sy [Dobberstein] het ook met die kantoor van die meester van die hof bevestig dat sy nie die geld belê het nie, maar kan nie verduidelik wat sy daarmee gedoen het nie,” het Marais gesê.



STEMPEL

Borris Erasmus, ’n vennoot by PD Theron Associates, wie se maatskappystempel Dobberstein na bewering gebruik het om van die transaksies uit te voer, het Dobberstein se status by die maatskappy verduidelik.

Erasmus het in ’n gesprek met Network Media Hub (NMH) gesê Dobberstein was nooit in diens van

PD Theron Associates nie, maar het onafhanklik sake gedoen as ’n geregistreerde boedelpraktisyn wat deur die meester van die hoërhof goedgekeur is.

“Sy het nie vir ons gewerk nie. Sy het ’n werkspasie by ons kantoor gehad en as ’n konsultant opgetree, nie net vir ons nie, maar ook vir verskeie ander mense. Sy het ook baie private werk gedoen,” het hy gesê.

Volgens Erasmus het Dobberstein geen formele posisie in die regsfirma beklee nie. Sy het egter die kantoor hoofsaaklik gebruik omdat dit naby die meester se kantoor geleë is.

Hoewel Erasmus erken het dat hulle van haar dienste as konsultant gebruik gemaak het en nie voorheen probleme met haar gehad het nie, het kommer nou ontstaan oor die beweerde misbruik van die regsfirma se amptelike stempel op dokumente wat deur NMH gesien is.

“Wat my pla, is dat daar gevalle is waar dit voorkom dat sy die amptelike stempel van die regsfirma gebruik het. As daar gevalle is waar sy ons amptelike stempel gebruik het, het ons nie die inligting daarvoor nie,” het Erasmus gesê.

Hy het bevestig die regsfirma het aan die meester van die hoërhof geskryf en besonderhede versoek van enige boedelkwessies wat Dobberstein moontlik hanteer het.

“In hierdie stadium is hierdie kwessies meer verwant aan private boedels, nie die wat enigiets met

PD Theron and Associates te make het nie,” het Erasmus verduidelik.

Hy het ook bevestig dat die regsfirma ’n onverwante interne aangeleentheid op versoek van ’n kliënt ondersoek en waarby Dobberstein betrek word.

Die ondersoek deur die meester van die hoërhof duur voort. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-11-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer