Conradie, Damases ná 14 jaar gevonnis
Regter Thomas Masuku het korrupsie beskryf as ’n misdryf wat sorgvuldig beplan en uitgevoer word nadat oortreders die swakpunte van ’n organisasie of stelsel bestudeer vir hul eie voordeel of tot voordeel van ander.
Die veteraanprokureur Dirk Conradie en sy medebeskuldigde, Sara Damases, is uiteindelik ná 14 jaar in die hoërhof in Windhoek in hul korrupsiesaak deur Masuku gevonnis.
Conradie is tot ’n boete van N$200 000 of vyf jaar tronkstraf gevonnis, terwyl Damases gelas is om ’n boete van N$60 000 te betaal of twee jaar agter tralies deur te bring.
Die hof het albei beskuldigdes in Februarie vanjaar skuldig aan korrupsieverwante oortredings ingevolge die wet op die bekamping van korrupsie skuldig bevind met saak wat sedert 2013 sloer.
Tydens die vonnisverrigtinge het aanklaer Edmund Marondedze aangevoer dat die erns van die oortredings, die betrokke bedrag en die noodsaaklikheid om korrupsie af te skrik, gevangenisstraf regverdig.
Marondedze het die hof meegedeel dat die saak ongeveer N$60 miljoen behels en dit beskryf as ’n ernstige verraad van korporatiewe vertroue en bestuur.
Hy het ook aangevoer dat Conradie en Damases die aantygings vir meer as tien jaar ontken het en verskeie tussentydse aansoeke gebring het, wat bygedra het tot vertragings om die saak finaal af te handel.
‘MISBRUIK VAN VERTROUE’
By die vonnisoplegging van Conradie het Masuku besondere klem gelê op sy posisie as regsman en voormalige lid van verskeie rade, insluitend die direksie van MTC.
Die regter het gesê Conradie het die vertroue wat in hom gestel is, misbruik en vertroulike inligting gebruik om ’n tender te probeer herlei na DV8 Saatchi & Saatchi tot voordeel van Damases.
Die uitspraak lui dat Conradie probeer het om die toekenning van ’n kontrak aan DV8 te beïnvloed in plaas van Advantage Advertising & Communications.
Masuku het gesê Conradie se regsopleiding en professionele status moes hom meer bewus gemaak het van sy strafbare en onbehoorlike optrede.
Die regter het bygevoeg “Damases was nie ’n onskuldige omstander nie”
Alhoewel Damases nie as die meesterbrein agter die skema bevind is nie, het die Masuku gesê sy was in die middelpunt daarvan en sou baat as die plan slaag.
Die hof het bevind dat Damases die direkteure van DV8 genader het nadat Conradie haar ingelig het dat daar “snaakse dinge” met die MTC-tender aan die gang is.
Masuku het gesê sy kan nie as ’n onskuldige omstander beskou word nie, omdat sy iets uit die beweerde onwettige reëling kon wen en ’n rol gespeel het om te verseker dat ’n onregmatige vergadering plaasvind.
By die oorweging van die vonnisse het die regter ook in ag geneem dat albei beskuldigdes eerste oortreders was en nie wesenlik uit die oortredings voordeel getrek het nie.
BOETE VS TRONKSTRAF
Masuku het gesê die wet op die bekamping van korrupsie maak voorsiening vir ’n boete van tot N$500 000, gevangenisstraf van tot 25 jaar, of albei.
Die regter het bevind dat waar die wet ’n boete en gevangenisstraf as alternatiewe strawwe voorsien, ’n hof eers behoort te oorweeg of ’n boete die doeleindes van straf voldoende sal dien.
Hy het gesê gevangenisstraf behoort nie outomaties as die verstekvonnis behandel te word nie.
Conradie is deur senior advokaat Slysken Makondo verteenwoordig en Damases deur Vetu Uanivi.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie