Chinees se bakkie gekonfiskeer
Die China Town-winkeleienaar Li Bailong se Toyota-bakkie is deur die adjunk-balju in beslag geneem nadat die Chinees versuim het om skadevergoeding van N$230 000 te betaal aan ’n voormalige werknemer.
Die beslaglegging op die voertuig het op 27 Januarie plaasgevind.
In 'n mylpaaluitspraak in Augustus 2025 het die hoërhof in Windhoek Li gelas om skadevergoeding aan Itakeya Ruth George te betaal nadat bevind is dat hy haar aan vernederende en verkleinerende behandeling onderwerp het tydens haar ontslag.
Die saak spruit voort uit 'n voorval in November 2021 by Li se winkel in die noordelike nywerheidsgebied in die hoofstad waar George in diens was.
Li het haar diens skielik beëindig en in plaas daarvan om met waardigheid te vertrek, het hy vir George beveel om haar uniform onmiddellik uit te trek. Om haarself te bedek, is sy óf 'n kartonboks óf 'n stuk materiaal oorhandig.
Die afdanking wat in die openbaar gebeur het, het George blootgestel en verneder gelaat.
Regsverteenwoordigers het aangevoer dat die manier van ontslag 'n skending van haar grondwetlike regte op waardigheid en beskerming teen wrede, onmenslike en vernederende behandeling was.
Li se poging om geregtigheid te ontduik met ’n halfhartige appèl het teen hom gedraai.
Nadat sy regspan versuim het om die nodige stukke in te dien of die vereiste waarborg te betaal, het die hoogste hof sy appèl in Desember 2025 van die hand gewys.
George se regsverteenwoordiger, Henry Shimutwikeni & Co Inc, het die weg gebaan dat die voertuig by ’n openbare veiling verkoop kan word om die geld te verhaal.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie