• Tuisblad
  • Howe
  • Bruilofte by landdroshowe speel tweede viool
Landdroste by Ondangwa en Gobabis het die aantal huwelike wat hulle voltrek, beperk weens hul ander regterlike verantwoordelikhede. FOTO TER ILLUSTRASIE/VERSKAF
Landdroste by Ondangwa en Gobabis het die aantal huwelike wat hulle voltrek, beperk weens hul ander regterlike verantwoordelikhede. FOTO TER ILLUSTRASIE/VERSKAF

Bruilofte by landdroshowe speel tweede viool

Landdroste swaar oorlaai met strafsake
Paartjies wat droom van ’n hoftroue op op Ondangwa en Gobabis word aangesê om ander opsies te oorweeg.
Nikanor Nangolo

Nie alle verliefde en verloofde paartjies droom van 'n flambojante kerkbruilof en duur onthaal nie, maar wil die knoop vinnig in die landdroshof deurhak.

Paartjies wat hoop om by die landdroshowe van Ondangwa en Gobabis te trou, staar beperkte gleuwe en langer wagtye in die gesig, omdat landdroste te besig is met strafregtelike sake om onbeperk seremonies te kan verrig.

Die minister van justisie, Wise Immanuel, het verlede week aan die parlement gesê albei howe moes die aantal huwelike wat hulle skeduleer, beperk, omdat landdroste reeds met swaar strafsaaklaste en ander regterlike verantwoordelikhede besig is.

Op Gobabis sit die twee permanente landdroste daagliks twee strafhowe voor, terwyl hulle ook rondgaande howe by Witvlei, Leonardville en Talismanus bywoon.

“Gegewe hierdie verantwoordelikhede moes die landdroste op Gobabis ’n beperking plaas op die aantal huwelike wat geskeduleer word, aangesien dit onprakties geword het om ’n onbeperkte aantal seremonies te akkommodeer terwyl ander kernregterlike funksies behartig word,” het Immanuel gesê.

Die situasie is soortgelyk op Ondangwa, waar drie landdroste ’n swaar strafsaaklas bestuur, benewens ander regterlike en administratiewe funksies.

“Dus is dit eweneens onprakties om ’n onbeperkte aantal huwelike by hierdie hof te skeduleer,” het Immanuel gesê.


ALTERNATIEWE OPSIES

Maar paartjies is nie tot landdroste beperk wanneer hulle kies wie hul huwelik kan bevestig nie.

Immanuel het gesê godsdienstige leiers, insluitend dominees, pastore, priesters, diakens, eerwaardes en ander geregistreerde ampsdraers, word wettiglik as huweliksbeamptes erken en mag huwelike ooreenkomstig die wet bevestig.

“Paartjies wat hul huwelike by die hof wil laat bevestig, moet daarom bereid wees om toekomstige datums op grond van beskikbaarheid te aanvaar of alternatiewelik ander geregistreerde ampsdraers vir hul voorkeurdatums te nader.”

Die minister het gesê die reg om te trou bly beskerm ingevolge Artikel 14(1) van die Grondwet, terwyl praktiese beperkings bestaan op die aantal seremonies wat landdroste binne ’n gegewe tydraamwerk kan verrig.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-10-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer