Broer glo onregmatig aangehou
Die broer van ’n vrou wat beweer die voormalige minister van landbou, visserye, water en grondhervorming, Mac Hengari, het haar verkrag, eis skadevergoeding van N$1 miljoen van die regering.
Hy beweer sy inhegtenisname en aanhouding op korrupsieverwante aanklagte was onwettig. Die 31-jarige man se naam word nie genoem nie om sy suster se identiteit te beskerm.
Hofdokumente wat in April vanjaar by die hoërhof ingedien is, lys die inspekteur-generaal van die Namibiese polisie, die minister van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit, die minister van justisie en arbeidsverhoudinge asook die aanklaer-generaal as verweerders.
Die man, wat in Duitsland woon en werk, het in April 2025 na Namibië gereis weens kommer oor sy familie en die bewerings van verkragting en omkopery wat gemaak is.
Die staat het destyds aangevoer dat N$220 200 op 26 April aan sy suster oorhandig is as aansporing om die klag teen Hengari te laat vaar.
Die vermeende slagoffer se broer het meer as drie maande saam met Hengari in aanhouding by die Windhoek Sentrale Gevangenis deurgebring, voordat landdros Monica Andjaba in Augustus verlede jaar borgtog van N$15 000 aan beide toegestaan het.
Die man beweer dat hy op 26 April verlede jaar sonder ’n lasbrief in hegtenis geneem is en dat hy nie voldoende ingelig is oor die redes vir sy arrestasie nie.
“Die eiser is van sy vryheid ontneem en deur die polisie in aanhouding geplaas. Sy arrestasie het plaasgevind sonder dat die eiser enige oortreding gepleeg het,” lui die hofdokumente.
Die man beweer sy gevolglike aanhouding was onwettig, aangesien dit direk voortgespruit het uit wat hy as ’n onwettige inhegtenisname beskryf.
In sy eis voer hy ook aan dat polisiebeamptes hom tydens sy arrestasie probeer oorreed het om skuldig te pleit. Dit terwyl druk ook op hom geplaas is om derde partye by die saak teen die voormalige minister te betrek. In ruil daarvoor sou hy gunstige behandeling ontvang.
Dié gesprekke het na bewering sonder die teenwoordigheid van sy regsverteenwoordigers plaasgevind. Die eiser is vervolgens van verskeie oortredings aangekla, insluitend dwarsboming van die gereg, die aanhitsing om ’n oortreding te pleeg asook die oortreding van die teenkorrupsiewet.
Die man hou egter vol dat daar geen bewyse teen hom is in al die aanklagte nie. Volgens hom het sy arrestasie en aanhouding tot die verlies van sy vryheid, emosionele, sielkundige en reputasieskade gely, asook die skending van sy waardigheid.
Volgens sy eis het hy ook finansiële verliese gely, wat insluit ’n verlies aan inkomste, reiskoste tussen Namibië en Duitsland, regskoste, terwyl sy gesinslewe ook ontwrig is. Die staat moet nog ’n reaksie op die eis indien.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie