Mac Hengari Foto RITA KAKELO
Mac Hengari Foto RITA KAKELO

Broer getuig suster het vir geld gevra

Hengari gee glo net N$200
Die vrou wat die voormalige landbouminister van verkragting beskuldig, het glo aan haar broer gesê die polisie gaan hom vrylaat omdat hulle eintlik net vir Mac Hengari wil hê.
Nuusredaksie – Die broer van die 21-jarige vrou wat die voormalige minister van landbou, visserye, bosbou, water en grondhervorming van verkragting beskuldig, het Woensdag in besonderhede getuig oor ’n ontmoeting tussen Mac Hengari, sy suster en ’n polisiebeampte in gewone klere wat as Anna geïdentifiseer is.

Tydens dié ontmoeting het sy suster Hengari volgens hom weer vir geld gevra. Haar versoek het na bewering begin met N$15 000 en is toe na N$10 000 verminder. Albei die mans het glo geweier, met Hengari wat uiteindelik glo N$200 aan sy suster gegee het. Oomblikke later is die mans in hegtenis geneem.

Die 31-jarige man wie se naam nie bekend gemaak is nie om die identiteit van sy suster te beskerm, het tydens sy en Hengari se borgtogverhoor egter ontken dat nóg hy nóg sy suster ooit geld van Hengari gevra het. Die broer is Hengari se medebeskuldigde en staar saam met hom aanklagte van onder meer omkopery en dwarsboming van die gereg in die gesig. Dit volg nadat Hengari na bewering die man se suster in April met N$220 000 probeer omkoop het in ruil daarvoor dat sy die klag van verkragting teen hom terugtrek.

Die broer het gister getuig sy suster het hom om en by 18 April gekontak en hom van die beweerde verkragting vertel. Sy het hom glo ook gevra of hy met Hengari gepraat het. Hy het getuig ’n ontmoeting is gereël om ’n manier te vind om die kwessie te probeer oplos.

Buiten dat hy en sy suster na bewering nooit Hengari vir geld gevra het nie, het hy in sy getuienis volgehou dat hy nooit druk op haar geplaas het om geld te aanvaar of die klag terug te trek nie.

Hy het ook getuig wat hom verwar het, was die feit dat sy suster Hengari op 25 April ontmoet het, ’n dag voor die geskeduleerde ontmoeting met die regsverteenwoordiger Elia Shikongo. Tydens die ontmoeting het sy glo die voormalige landbouminister vir N$700 000 gevra in ruil daarvoor dat sy die verkragtingsklag teen hom terugtrek.

“Dit laat my steeds wonder omdat ons by Elia Shikongo se kantoor sou ontmoet het. Ek weet nie hoekom sy sou probeer om geld te vra voor die ontmoeting Saterdag nie,” het hy gesê.

Haar broer het aan landdros Monica Andjaba gesê die polisie het hom op 26 April met sy aankoms op ’n vlug uit Frankfurt, Duitsland, via Addis Abeba op die Hosea Kutako Internasionale Lughawe aangekeer. Volgens hom het sy suster, voor die polisiebeamptes hom weggelei het, glo aan hom gefluister: “Jy sal vrygelaat word, die ondersoekbeampte wil net vir Hengari hê, nie vir jou nie.”

Hy het sy en sy suster se grootwordjare as beskeie beskryf en het getuig hoe die gesin in ’n stadium in ’n sinkhuis agter in ’n erf gebly het.

Volgens die broer wat deur Nafimane Halweendo verteenwoordig word, het hy reeds in 2013 begin help om hul huur te betaal. Volgens sy getuienis werk hy as ’n tegnikus in Duitsland en is hy die broodwinner van sy familie, wat ook sy ma, jonger broer en sy suster se kind insluit.

Hy het ook ’n brief aan die hof voorgelê wat hy aan die kantoor van die ombudsman geskryf het waarin hy beweer ondersoekbeamptes dreig hom met sy lewe terwyl hy by die Windhoek Sentrale Gevangenis aangehou word. In die brief verwys hy na bewering na die ondersoekbeampte Vaino Werner wat hom glo op drie verskillende geleenthede besoek het sonder dat sy regsverteenwoordiger teenwoordig was.

Tydens die besoeke, sê die broer, het die ondersoekbeampte glo druk op hom geplaas om skuldig te pleit. Hy het hom ook na bewering gewaarsku sou hy dit nie doen nie, hy nooit weer sy vrou en seun sou sien nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-07-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer