Die moordbeskuldigde mnr. Harvey Boulter. Foto Argief
Die moordbeskuldigde mnr. Harvey Boulter. Foto Argief

Boulter se saak weer uitgestel

Verskyn weer op 17 November
Die saak teen die Britse miljardêr is steeds nie gereed vir verhoor nie.
Kristien Kruger
Die Britse miljardêr en moordbeskuldigde, mnr. Harvey Boulter, se saak is vandag in die hoërhof in Windhoek tot 17 November uitgestel.

Die staatsaanklaer, adv. Antonia Verhoef, het regter Christie Liebenberg tydens voorverhoorverrigtinge ingelig dat hulle steeds wag vir die aanklaer-generaal se beslissing oor ’n interne hersieningsproses.

Dit was ook die rede waarom die saak ’n vorige keer uitgestel is.

“Dit is die laaste keer wat die saak om dié rede uitgestel sal word. Die saak kan nie vir altyd in die voorverhoorfase bly nie,” het Liebenberg gesê voordat hy Boulter se borgtog onder dieselfde voorwaardes verleng het.

AGTERGROND

Boulter word beskuldig van die moord op sy plaasbestuurder, mnr. Gerhard van Wyk, op 27 Februarie verlede jaar tydens ’n geselligheid op Boulter se plaas naby Kamanjab.

Boulter staan tereg op ’n klag van moord, die onwettige besit van ’n vuurwapen en regsverydeling.

Die hoërhof het verlede jaar borgtog van N$500 000 aan Boulter toegestaan nadat ’n aansoek om borgtog nie in die landdroshof op Outjo geslaag het nie.

Boulter word deur mnr. Sisa Namandje verteenwoordig.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-11-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer