Borgtog vir vermeende dronkbestuurder

Adam Hartman
’n Man wat daarvan beskuldig word dat hy onder die invloed van alkohol bestuur en ’n fietsryer ernstig beseer het in ’n ongeluk in Walvisbaai verlede Donderdag, is borgtog van N$8 000 toegestaan.

Volgens die polisie se woordvoerder in Erongo, senior inspekteur Judith Shomungula, het die voorval omstreeks 03:00 op die hoek van Paul Vincentstraat en Esplanadeweg plaasgevind.

“Daar word vermoed die verdagte het ’n voertuig onder die invloed van alkohol bestuur, ’n fietsryer gestamp en versuim het om ’n asemmonster te verskaf,” het Shomungula bevestig.

Die fietsryer, geïdentifiseer as Reo Burger, het ernstige beserings opgedoen en is tans in ’n kritieke toestand in die Welwitschia Privaat Hospitaal.

Sy familie het kommer uitgespreek oor hoe die voorval hanteer is en beweer die toneel is opgeruim voordat die polisie die omstandighede van die ongeluk behoorlik kon ondersoek.

Die beskuldigde, die 42-jarige Petrus Geldenhuys, is in hegtenis geneem op aanklagte van roekelose en/of nalatige bestuur, die versuim om ’n asemmonster te verskaf en bestuur onder die invloed van alkohol.

Hy het in die Walvisbaai-landdroshof verskyn en is op borgtog vrygelaat.

Die saak is tot 3 Julie 2025 vir verdere polisieondersoeke uitgestel.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-11-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer