Boer weer in hof wat glo kind omry

Saak hervat op 24 November
Die man wat na bewering 'n negejarige meisie raakgery het en nou teregstaan op 'n klag van strafbare manslag, het gister in die hof op Mariental verskyn.
Kristien Kruger,Monique Adams
Die boer op Mariental wat in Mei vanjaar na bewering ’n negejarige meisie omgery het, se saak is gister in die landdroshof op dié dorp tot 24 November uitgestel.

Mnr. Johan Meyer (50) is op 3 Mei borgtog van N$3 000 toegestaan, waarna sy saak tot gister uitgestel is vir hom om regsverteenwoordiging te bekom en vir die polisie om die saak verder te ondersoek. Die rede vir gister se uitstel was weer vir verdere ondersoek.

Meyer staan tereg op ’n klag van strafbare manslag.

Die voorval het vroeg Sondagoggend, op 1 Mei, op plot K11 by die Hardapskema buite Mariental plaasgevind toe Meyer na bewering vir Hendrina Mupulo (9) saam met haar ma en ander mense betrap het terwyl hulle glo op sy lande besig was om grondbone uit te grawe.

Die bewering is dat Meyer hulle met sy Toyota Land Cruiser gejaag het.

Volgens die polisie het hy die meisie in die proses raakgery en sy het later in die hospitaal op Mariental aan haar beserings beswyk.

Honderde inwoners van Mariental het op 6 Mei ’n optog gehou en geregtigheid vir haar geëis.

Mupulo se ma, me. Anne-Marie !Aochamus, het destyds aan Republikein gesê Meyer het eerste haar suster se seun met sy voertuig agternagesit, maar sy het hom gesmeek om te stop en gesê hulle sal sy landerye verlaat.

Die verdagte het daarna gejaag tot waar Mupulo gestaan het en toe !Aochamus haar dogter gevra het om na haar toe te hardloop, was die voertuig te vinnig en sy het nooit haar ma se arms bereik nie.

“Ek het besluit om my kinders saam te neem om grondbone te versamel, aangesien ek ander mense dit sien doen het en gedink het dit sou nie ’n probleem wees nie. Sy het gehuil en na my toe gehardloop. Die stryd van werkloosheid het hierdie gemors veroorsaak,” het !Aochamus gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-08-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer