Charmaine Gous FOTO VERSKAF
Charmaine Gous FOTO VERSKAF

Boekhouer steel glo N$3,5 m.

‘Doen behoorlike agtergrondkontrole voor indiensneming’
Charmaine Gous is op borgtog van N$10 000 vrygelaat en sal weer op 11 Augustus in die landdroshof in Windhoek op klagte van bedrog en diefstal verskyn.
Francoise Steynberg

’n Private speurmaatskappy, Namibian Investigative Services (NIS) moedig alle Namibiese werkgewers, sake-eienaars en werwingsbestuurders aan om behoorlike sorgvuldigheid uit te oefen wanneer hulle nuwe werknemers aanstel.

“Die uitvoering van behoorlike en omvattende agtergrondkontroles is nie meer ’n opsie nie. Dit is ’n kritieke waarborg vir die beskerming van jou organisasie,” het Michael Nieuwoudt, eienaar van NIS, gesê.

Hy het aan Republikein bevestig hul speurwerk gehelp het om die beskuldigde, Charmaine Gous, vas te trek wat deur haar voormalige werkgewer, Pepe Construction Lodge Builder & Outdoor Decking van diefstal en bedrog van N$3,5 miljoen beskuldig word.

Die maatskappy, geleë in die Suidelike Nywerheidsgebied in die hoofstad, is het verskeie projekte by luukse lodges oraloor die land gedoen.

Gous, die voormalige boekhouer van die maatskappy, is volgens NIS op 15 November 2025 op ’n plaas buite Okahandja in hegtenis geneem.

Sy het haar eerste hofverskyning in die Windhoekse landdroshof op 20 November gemaak.


AGTERGROND

Die saak spruit uit die eienaar van die maatskappy, Olivotto Giampietro, wie se vrou snuf in die neus gekry het oor ongemagtigde transaskies. 

“Op Woensdag 23 Augustus 2023, omstreeks 11:00, terwyl ek op pad was na Karibib, het ek ’n SMS van my vrou ontvang wat my in kennis gestel het van ’n ernstige probleem rakende ongemagtigde transaksies vanaf ons maatskappyrekening,” lui Giampietro se verklaring.

Sy vrou het ontdek dat ’n bedrag van N$190 000 oorgeplaas is.

“Sy het gevra of ek bewus was van die doel van hierdie betaling. Ek was nie. Nadat ek hierdie inligting ontvang het, het ek onmiddellik ons ​​boekhouer, Charmaine, gekontak, wat verantwoordelik was vir die bestuur van maatskappybetalings”.

Giampietro het haar glo direk gevra hoe die geld in Gous se persoonlike rekening beland het.

“Haar reaksie was vaag. Sy het beweer dat sy nie geweet het nie en het voorgestel dat dit dalk ’n fout was. Gegewe die erns van die situasie, het ek Charmaine opdrag gegee om alle betalingsverwante bedrywighede onmiddellik te staak.”

Giampietro het ook versoek dat sy alle maatskappylêers en dokumentasie aan hom by die kantoor oorhandig.

“Later daardie dag het Charmaine met die lêers by die kantoor opgedaag. Tydens ons gesprek het ek haar daaraan herinner dat ons ons BTW-verpligtinge moes vereffen. Sy het beweer dat die belasting reeds betaal is,” lui die verklaring.

“Ná hersiening van die rekords het dit egter duidelik geword dat geen sodanige betaling aan die belastingowerhede gemaak is nie, maar dat die fondse weer na haar persoonlike rekening oorgeplaas is.

“Ná hierdie gesprek het sy skielik die kantoor verlaat. Ons rekenmeester het sedertdien ’n deeglike hersiening gedoen van alle transaksies oor die drie maatskappyrekeninge waartoe Charmaine toegang gehad het.”

Volgens Giampietro se verklaring was die bevindinge uiters kommerwekkend: “Oor die afgelope sewe jaar is bevestig dat Charmaine ongeveer N$3,5 miljoen gesteel het. In ’n aparte gesprek het sy erken dat sy altesaam N$1 miljoen gesteel het. Tot op hede het sy slegs N$120 000 terugbetaal.”


BORGTOG VAN N$10 000 

Gous is op borgtog van N$10 000 vrygelaat en volgens haar borgtogvoorwaardes moet sy elke Vrydagoggend by die Gobabis-polisiestasie aanmeld, omdat sy tans in die Omahekestreek woonagtig is.

Haar mees onlangse hofverskyning was op 18 Mei in die landdroshof in Windhoek. Landdros Simon Auguste het haar saak tot 11 Augustus vir verdere ondersoek uitgestel en Gous se borgtog is verleng.

Reinhard Kamatoto verskyn vir die staat en regsverteenwoordiger Lin-Mari Coetzee verdedig vir Gous.  


MISDAAD IN WERKPLEKKE

Nieuwoudt sê oraloor Namibië was daar ’n aansienlike toename in misdaadaktiwiteite wat in werkplekomgewings plaasvind. Hierdie voorvalle wissel van interne diefstal en bedrog tot meer ernstige oortredings wat verband hou met georganiseerde misdaadnetwerke.

“In sommige gevalle plaas georganiseerde misdaadeenhede doelbewus individue binne maatskappye, wat hulle toelaat om van binne die organisasie te werk sonder onmiddellike opsporing. “Hierdie individue kan toegang tot sensitiewe inligting, finansiële stelsels of operasionele prosesse verkry, wat aansienlike risiko's vir besigheidskontinuïteit en sekuriteit inhou,” sê Nieuwoudt.

Volgens hom het NIS het talle gevalle suksesvol ondersoek waar individue met onbekende kriminele agtergronde of affiliasies sonder behoorlike keuring in diens geneem is.

“Hierdie ondersoeke het tot suksesvolle vervolgings gelei, wat bevestig dat die bedreiging realiteit is en voortduur.

“Hierdie gevalle beklemtoon ’n kritieke patroon: Baie van hierdie voorvalle kon voorkom gewees het deur deeglike sifting voor indiensneming.”

Nieuwoudt sê die uitvoering van behoorlike agtergrondkontroles help werkgewers om onder meer identiteit en kwalifikasies te verifieer; vorige misdaadaktiwiteite of bedrieglike gedrag op te spoor; teenstrydighede in werkgeskiedenis te identifiseer; interne risiko en finansiële verlies te verminder en personeel, bates en reputasie te beskerm.

“Versuim om hierdie kontroles te implementeer, laat organisasies kwesbaar vir uitbuiting,” maan hy.

“Ons moedig alle werkgewers sterk aan om streng aanstellingsprotokolle te volg wat omvattende agtergrondondersoek insluit.

“Voorkoming is altyd meer doeltreffend as om die gevolge van interne misdaad te hanteer,” het Nieuwoudt afgesluit.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-05-29

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer